God se Woord in vandag se woorde

As daar nie liefde is nie, bly net haat


Wat is die teenoorgestelde van liefde? Dis mos haat. Wanneer die liefde dus ontbreek, neem haat die ruimte in.  

So maklik sê ons dat ons nie iemand haat nie, maar ons het geen liefde vir daardie persoon nie. As ek dit reg verstaan, is daar net twee kante van die munt: liefde of haat. 

Daar is nie neutrale grond hier nie. Daar is nie ’n stuk grond waar daar ’n skietstilstand heers nie. Daar is slegs ’n kant waar daar in liefde geleef word of ’n anderkant waar haat heers. 

Mense wat leef in ’n plek waar haat heers, dra ’n onsigbare bord om hul nekke: 15Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar. En dit weet julle, ’n persoon kan nie tegelyk deur moord ’n ander se lewe van hom wegvat en dan self vir ewig wil lewe nie. 

Baie keer doen iemand iets aan jou wat die liefde van jou stroop en ja, dan kom trek haat daarin. Ek het mos al vertel van die ou wat te veel gevat het en voor AB se ouers se kar ingery het. Albei sy ouers is dood en hy en sy suster moes by sy ouma grootword.  

Dis ’n normale menslike aksie om die liefde vir so ’n persoon weg te jaag. Jare sukkel ’n mens met vergifnis en die haat in jou pla. Dis net die Heilige Gees wat ’n mens hier kan help om die haat weg te dryf, sodat liefde weer sy plek kan kom inneem. 

Gelukkig word die meeste van ons hierdie gespaar.  

Maar tog word ons nie haat gevrywaar nie. Jy sien, soms is ons afgunstig. Ons wil hê wat ander het en omdat ons dit nie kan kry nie, bou daar ’n wrok op teen die ander.  

As liefde loop en haat neem sy intrek.  

Ons moet onthou dat ons natuur hier binne ons baie keer skeeftrek. So in die hitte van die stryd gryp dit terug na hoe ons gemaak is en dan verdwyn die mooi en wil ons net vat. 

As liefde loop en haat neem sy intrek.  

Wanneer die haat oorgaan in dade, word die moordenaarsbordjie om die nek gehang. Baie gaan nie oor tot die fisiese daad nie, maar tog bly liefde soek en vind ’n mens net haat. 

Dis nogal erg om so oor ’n mens se doen en late te praat. Ons is mos nie haters of nog erger, moordenaars nie.  

Dalk het dit weer tyd geword om te kyk na al ons verhoudings en te soek waar ons nie liefhet nie. My een vriend skuld die ander ’n hoop geld. Ek vermoed as ons diep in die ouens se harte gaan soek, sal daar nie veel liefde gevind word nie.  

Ons moet seker maak dat daar niks in ons harte is wat ons teen ander hou nie. Ons moet seker maak dat daar orals liefde is, want dan sal daar nie haat in ons heers nie. 

Teks
1 Johannes 3:11-18 

Om oor na te dink
Het jy orals lief?
Waar moet jy meer liefhê?
Waar is daar dalk ’n bietjie haat? 

Gebed
Vader, help my om geen haat in my toe te laat nie, maar orals lief te hê, al is dit vreeslik moeilik. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek