God se Woord in vandag se woorde

As iemand jou in die tande skop


Sus (skuilnaam) gee my so ’n kykie in haar lewe:

Ek was vir 32 jaar getroud met ‘n man wat nie eintlik liefde en commitment geken het nie.

Ek het alles in my vermoë gedoen om hom te wys hoe om liefde vir jou vrou en kinders te hê, maar hoe langer ons getroud was, hoe erger het hy geword. Hy het baie vriendinne gehad en was gereeld ontrou en “jammer” moes my maar beter laat voel. Ek was met tye so moedeloos, want ek het baie vir hom gebid en gevoel die Here hoor en antwoord nie my gebede nie.

Ek staan toe een oggend in my kombuis en ek beplan om selfdood te pleeg, want ek kon nie meer nie. My man het ons baie verbally abuse en ons het niks in sy oë reg gedoen nie.

Die Here het in ‘n hoorbare stem vir my gevra wat dink ek sal van my kinders word en hoe sal hulle voel as ek selfdood sou pleeg. Die Sondag in die kerk het my Pastoor gesê dat die Here aan hom geopenbaar het dat iemand haar eie lewe wil neem.

Ek het uitgegaan vir gebed en hy het vir my gesê die Here vra hoekom ek Hom nie genoeg vertrou en weet dat Hy my deur alles dra en my nooit sal verlaat nie.

Daardie dag het ek besluit ek sal aan Hom vashou no matter what.

Die Here het my gedra toe my oudste dogter oorlede is.

Hy het my gedra toe my geestelike moeder en my moeder oorlede is en deur ‘n baie seer egskeiding wat jare later toe wel gebeur het. Ek was maar nog steeds lief vir hom.

Ek vertrou nog steeds op die Here deur alles wat ek doen, want ek weet Hy het my gedra waar ek nie meer kon loop nie. Hy antwoord altyd ons gebede al sê Hy ook nee, want Hy weet wat die beste vir ons is. Ja, God sal beskerm.

Dis nie maklik om staande te bly as iemand jou voortdurend in die tande skop nie. Dan bid ’n mens hard, al voel dit of jou gebed nie veel verder as die plafon trek nie. Maar tog kom red God, al moet Hy selfs met ’n hoorbare stem met jou kom praat.

Dis nie net in huwelike waar mense so in die tande geskop word nie. By die werk gebeur dit gereeld. Baie werknemers moet lei onder hulle base of meerderes. Sommer so ongevraagd kom daag die onreg by jou kantoor op. Dan is dit nie maklik om jou lig te laat skyn nie.

21As julle egter niks verkeerds gedoen het nie en nogtans gestraf word, lyk die prentjie anders. As julle nie dan self lelik begin optree nie, maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees.

Dis nie ’n maklike opdrag nie. Ek dink nie die Here verwag van ons om soos vloerlappe gebruik te word nie. Ons mag opstaan oor onreg, maar dan moet ons dit op so ’n manier doen dat God trots op ons is. Laat ons, soos Sus, op God bly vertrou vir hulp deur dik en dun.

Teks
1 Petrus 2:18-21

Om oor na te dink
Waar ervaar jy onreg?
Waar weet jy van onreg wat gesaai word?
Wat moet jy doen?

Gebed
Vader, dis nie maklik om sleg behandel te word en steeds goed en reg op te tree nie. Help my om só op U te vertrou dat dit wel vir my moontlik is. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek