God se Woord in vandag se woorde

Deel van ’n Koninklike familie


Ek was die laaste van ses kinders. My broers en susters sê ek was voorgetrek, maar ek stem nie saam nie. As my broers ’n proefkonyn gesoek het om hulle nuut gemaakte veerpyltjies op uit te toets, het ek nie ’n keuse gehad nie en ek moes hardloop. Hulle het dan gekyk of hulle my hakke met die pyltjies kan raakgooi.  

Ek het baie vas geslaap en as ek ’n draai moes loop, het ek nie eintlik wakker geword nie. As my suster my in my wandeling raakloop, neem sy my nie na die toilet toe nie, maar na die gangkas. Met ‘n skaterlag word ek dan wakker gemaak net voordat ek die kraantjie oopdraai.  

Maar laat iemand dit net waag om iets aan ons te doen, dan staan almal saam en met ses van ons wat as een man opstaan, het niemand kans gesien om ons aan te vat nie. 

Dis wat gesinne doen. Hulle staan by mekaar en help mekaar. As die een hulp nodig het, sal een van die gesinslede hand opsteek om te help. Ek onthou nog hoe my broer vir my as student sy kredietkaart gegee het om my meisie, nou my vrou, vir ete in die stad te neem. 

Ons is almal deel van een gesin, al het ons verskillende aardse ma’s en pa’s: 2… Julle weet mos van die geestelike familie van die hemelse Vader en sy Seun, Jesus Christus. Ons behoort nou aan daardie familie. Ons wil so graag hê dat julle ook deel daarvan moet word. 

Wanneer ons Jesus kies as ons Verlosser en Hom innooi in ons lewe, maak Hy ons deel van Sy gesin. Dan word ons deel van die koninklike gesin met natuurlik al die voordele daaraan verbonde. 

Net jammer dat baie van ons dit nie verstaan nie en aanhou lewe soos kinders wat nie deel is van ‘n koninklike gesin nie. Ons moet ’n punt daarvan maak om ons manier van lewe te laat inpas by ons Goddelike gesin se manier van doen. 

Baie ouers skryf vir my hoe hul hande in die hare sit as gevolg van hulle kinders. Die kinders vang dinge aan wat glad nie hulle manier is van deur die lewe loop nie en dan land hulle op plekke waar daar net pyn en seer is.  

Laat ons nie dieselfde foute maak met ons hemelse gesin nie. Laat ons manier van lewe hier op aarde nie ons Vader en vir Jesus skaam maak nie. Laat ons eerder ons Broer, Jesus, se lewe hier op aarde naboots. 

Jesus het vir ons op ‘n eenvoudige manier kom wys hoe Hy wil hê ons moet lewe. Ander mense was meer belangrik as Hy. Ander se behoeftes het eerste aandag gekry voor Hy by Sy eie behoeftes uitgekom het. 

Daarom moet ons ook ander mense in die oog hê. Ons moet kyk waar ander koninklike gesinslede se behoeftes en tekorte is en dan iets daaraan doen. 

Laat ons só lewe dat God en Jesus tevrede is met ons manier van deur die lewe loop hier op aarde. Laat ons ook ’n begeerte hê dat meer en meer van die mense wat saam met ons leef, deel word van hierdie wonderlike familie.  

Teks
1 Johannes 1:1-4 

Om oor na te dink
Ken jy jou koninklike familie?
Sien jy medefamilie se uitdagings raak?
Het jy planne om iets daaraan te doen? 

 Gebed
Vader, dankie dat U my Hemelse Pa is. Jesus, dankie dat U my hemelse Broer is. Laat ek lewe soos ’n mede-familielid wat U Naam hier op aarde verheerlik. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek