God se Woord in vandag se woorde

Deur Jesus ken ons nou vir God ook


Ek het dit al gesê, maar ek was nie ’n goeie student nie. Ek het alles gedoen, behalwe swot. Ek het vir Inter Kaap bus gery, ek het restaurante bestuur, en ek het selfs my eie besproeiingsbesigheid gehad. Tussen al daardie bedrywighede was daar maar min tyd, of lus, vir akademie.

My dogters, aan die ander kant, was die teenoorgestelde. Seker soos hulle ma. Hulle het van skooldae af self agter die boeke ingeskuif. Daar was nie een dag wat hulle onvoorbereid by ’n klas opgedaag het nie. Man, hulle het uitgeblink en pryse vir akademie by die huis aangedra asof dit niks is nie.

En toe kom ons seun. Weereens die teenoorgestelde. Dié keer van die dogters. Ek vermoed hy het geglo dat ‘n geleerdery jou een of ander siekte kon gee. Daarom het hy byna nooit agter die boeke dingeskuif nie. Aan die einde van die jaar was die meeste van sy werkboeke nog so splinternuut soos op dag een.

Selfs op universiteit was hy soos ’n undercover student. Nie ons nie, nie die dosente nie, en ek vermoed nie eens hyself het geweet hy is eintlik besig met ’n graadkursus nie!

Maar ek kon niks sê nie, want sien, die appel het wraggies nie ver van die boom geval nie. Ek was mos ook maar skrikkerig vir die boeke. Ek vermoed dit was met hope genade van Bo dat ek wel my grade gekry het.

My seun ook. Toe ons vir die huishulp sê dat hy deur is, toe sê sy: “But I never see him read!” Ja, die spreekwoord sê mos: aartjie na sy vaartjie.

Maar soos hy ouer word, kom ek agter dat daar al hoe meer dinge is wat hy doen net soos ek dit doen. Hy stop gou by iemand in nood. Hy’s ’n entrepreneur net soos ek. Nou die dag hou ek hom dop by ’n braai, en ek sien toe nogal baie van myself in hom.

Ek besef dat as ek eendag nie meer hier is nie, en mense wonder watter tipe mens ek was, hulle maar net na my kinders hoef te kyk. Hulle sal dan ’n goeie idee kry van wie ek was.

Toe slaan dit my voor die kop: dis presies hoe dit met Jesus werk. Hy het gekom om vir ons te wys wie God is. Jesus se werk hier op aarde was nie net om in ons plek vir ons sondes te sterf nie. Hy het ook gekom sodat ons God deur Hom kan leer ken.

20Dit weet ons: die Seun van God het gekom en vir ons die geestelike dinge kom verduidelik. Daarom kan ons nou die ware God ken. Ons is deel van die familie van die ware God, van sy Seun, Jesus Christus. Hierdie Jesus self is die ware God en die ewige lewe.

Soos Jesus gefokus was op mense, en graag mense in nood gehelp het, só is God ook. Soos Jesus nie bang was om wonderwerke te doen om iemand se las ligter te maak nie, só is God ook. En ja, soos Jesus vir wat reg is opgestaan het, staan God ook net vir wat reg is in die wêreld.

Ons ken vir Jesus, dáárom ken ons vir God. Jesus het ons deel gemaak van die familie van God, en Hy is nou ons Vader. Jesus het dit moontlik gemaak dat ons vir ewig kan lewe, en dat ons nie hoef bang te wees vir die afdraai na die hel toe nie.

Laat ons dan nou leef as kinders van God, soos ons Broer Jesus. Laat ons doen soos Hý doen, en orals waar ons gaan, die goeie nuus vertel en goed doen, veral aan mense in nood.

Teks
1 Johannes 5:14-21

Om oor na te dink
Hoe goed ken jy vir Jesus?
Hoe goed ken jy vir God?
Lewe jy soos jou Broer hier op aarde gelewe het?

Gebed
Jesus, dankie dat ek vir God ken. Dankie dat ek deel is van die familie. Dankie dat ek kan uitsien na die ewige lewe. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek