Die gevolge van kwaad
20 ‘n Mens wat kwaad word, en kwaad gaan slaap, doen nie wat voor God reg is nie. Dalk is dit nodig dat ons almal by Rina leer:
“Moet ook nie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie.”
Oor hierdie 13 woordjies kan ek boekdele skryf, nie omdat ek dink ek kan of hou van skryf nie, maar omdat ek weet wat dit is om nie te gaan slaap, terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie. Ek het ‘n bitter en seer ondervinding gehad, wat my vir die res van my leeftyd twee keer sal laat dink.
My Pa was ‘n streng maar ‘n liewe mens, geliefd in die gemeenskap, geliefd in die kerk. My Pa het een reël gehad: ek moes saans onder sy dak slaap. Dit was maar min dat ek toegelaat was om saam met my niggie by my ouma se huis te oornag.
Een aand klim die waaghals weer uit my lyf en beraam ek en ‘n vriendin ‘n baie “slim” plan, sodat ek saam met haar by haar oupa en ouma se huis kon oorslaap. Ons “slim” plan het, soos hulle sê, geboemerang en my Pa het my kom haal.
My Pa was kwaad! Ek was baie kwaad! Die hele pad huis toe het ek vir my Pa, na wie ek my vandag dood verlang, vertel hoe onregverdig hy is, hoe baie ek hom haat, hoe ek wens ek het nooit ‘n pa gehad nie …
My liewe, kosbare Pa het nie veel gesê nie. Ek het kwaad gaan slaap.
Ek het gedink ek droom toe ek my Ma se angswekkende gille van die agterste kamer hoor. My ouer sussie het agter my in my bed kom inkruip en gesê ons moet bid, want Pappa het ‘n hartaanval gehad. Die loeiende sirenes van die ambulans het tussen my en my kinderlike gebede kom inwurm en niks het sin gemaak nie.
Ek het my bes probeer om weer te slaap, sodat alles soos voorheen kon wees en dat ek kon glo dat alles onwaar en net ‘n wrede droom was. Dit was nie ‘n droom nie.
Ek moes binne, wat gevoel het soos enkele minute, by my sussie hoor, “Pappa is dood”. En ek het kwaad gaan slaap en kon nooit jammer sê nie.
Die ware verhaal van Rina gryp ’n mens voor die bors. Ek is so dankbaar dat sy haar hart oopgemaak het, want ek kon so baie leer. Ek kon net weer vir myself ’n paal inslaan oor kwaad word en kwaad gaan slaap.
’n Paal met ’n rooi vlag wat sê: Los die kwaad. Wees die minste. Daar is dinge wat veel meer werd is. Konsentreer eerder op die mooi en die goeie van ander, as op die krom woorde.
Mag ons Vader met Sy Gees ons help om kwaad nek om te draai, nog voordat hy sy loop gekry het.
Teks
Jakobus 1:19-27
Om oor na te dink
Wat maak jou kwaad?
Hoe kan jy die kwaad se energie anders kanaliseer?
Moet God jou help?
Gebed
Vader help my hier. Soms glip ek ook en dan wil ek net nie die strydbyle neerlê nie. Ek weet dis verkeerd. In Jesus se Naam. Amen.
