Die goue kalfies in ons lewe
Eksodus 32:1 Toe Moses so lank wegbly en nie dadelik weer van die berg af terugkom nie, het die volk by Aäron bymekaargekom. Hulle sê toe vir hom: “Ons weet nie wat van hierdie man Moses geword het nie. Hy het ons uit Egipte gelei, maar nou is hy skoonveld. Jy moet vir ons ’n ander god kry wat ons verder kan lei.”
Wanneer ʼn mens op die paviljoen sit, kry jy ʼn heel ander perspektief van die game as wat jy self daar aan die speel is. Dis maklik om vinger te wys na die volk van God omdat hulle van die pad af is en ʼn goue kalf gebou het.
Tog moet ʼn mens verstaan waar hulle vandaan kom. Moses is vir 40 dae weg, sonder taal of tyding. Hy was die skakel tussen hulle en God en skielik is daar niks. Die volk weet dat hulle ʼn God nodig het om verder deur die woestyn te trek.
Dit wat hulle van gode weet, het hulle in Egipte geleer. Die Egiptenare het goue beelde gemaak en aanbid. Daarom het hulle ook so gemaak. ʼn God wat hulle kan sien en aanbid.
Ons weet wat daar op Sinai gebeur het. Ons weet God was besig om vir Moses die wet te gee. Maar die volk het dit nie geweet nie en hulle begin toe om hulle eie planne te maak. En hulle eie planne het hulle diep in die gemors gedompel. Daar was geen vrede en ook geen wenners nie.
Soms is dit nodig dat ons eers van die veld afstap en op die pawiljoen gaan sit om so van ʼn afstand na ons eie lewe te kyk. Daar van bo af kan ʼn mens gou sien waar dinge gedoen word wat nie lekker inpas by die res nie.
Baie keer voel iets vir ons reg, net omdat dit is hoe ons grootgeword het. Ons doen dit dan nog altyd so, so hoekom sal dit dan verkeerd wees? Maar net omdat ons dit nog altyd so doen, beteken nie dat dit reg en goed is nie.
In ʼn intieme verhouding met God moet ons gereeld ʼn tree terug gee en ons lewe met ʼn vergrootglas ondersoek. Ons moet die dinge gaan soek wat nie in God se prentjie vir ons lewe pas nie. En dan moet ons hulle gaan uithaal. Dis dalk nie so maklik nie, maar met die hulp van die Heilige Gees kan ons dit doen. God sal so bly wees daaroor.
Gebed
Vader, help my om die dinge wat nie in U prentjie vir my lewe pas nie, raak te sien. Help my om dit te los en nie meer te doen nie …
Vrae
Watter “goue kalf” het stil-stil in my lewe ingesluip sonder dat ek dit agterkom?
Waar probeer ek God vervang met iets wat ek kan beheer of sien?
Wanneer laas het ek my lewe eerlik voor God ondersoek en reggestel?
Doen dit nou
Vat vandag 10 minute en sit stil soos iemand op die pawiljoen en kyk eerlik na jou lewe.
Skryf een ding neer wat dalk tussen jou en God ingeskuif het en vra die Heilige Gees om jou te help om dit te los.
Doen vandag een konkrete aksie om God weer eerste te stel, soos om tyd met Hom deur te bring of iets prys te gee wat jou aandag steel.
