God se Woord in vandag se woorde

Dink, praat en doen soos Jesus


Ek kyk baie op na my mentor. Ek wens ek kan soos hy wees. Hy doen so baie vir almal. Wanneer hy by jou is, gee hy al sy aandag vir jou en jy voel so spesiaal. Wanneer hy oor God praat, praat hy met gesag. Jy kan hom omtrent enige vraag oor die Bybel vra en hy het ’n antwoord. Alles in nederigheid.

Ek weet dit was nie so van die begin af nie. Hy’t ook maar in die begin oor ’n klomp goed gestorm. Tog is die verandering in sy lewe merkbaar. Hoekom? Want hy spandeer sy kwota tyd elke dag by die Here. Hoe meer tyd jy in iemand se teenwoordigheid deurbring, hoe meer raak jy soos daardie persoon.

Hoe meer tyd ek in my vrou se teenwoordigheid deurbring, hoe meer word ons soos mekaar. Ons ken mekaar se manier van doen. Ons weet waarvan die ander een hou en waarvan die ander een nie hou nie. Ek weet wat om te doen om in my vrou se goeie boekies te bly en ek weet watter dinge ’n koue stilte tussen ons laat opstaan.

In ons verhouding met Jesus werk dit ook so: 10God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy.

Dis ’n eenvoudige optelsom. Hoe meer tyd jy inruim vir Jesus, hoe meer gaan jy leer wat vir Hom aanvaarbaar is en waarvan Hy nie hou nie. Ons raak dan al hoe meer soos Hy. Ons doen dinge soos Hy dit sou gedoen het. Op die ou end het ons ’n baie groot invloed in die wêreld, maar méér nog – ons word teen onsself beskerm, want ons doen nie meer so gereeld verkeerde dinge nie – ons doen al hoe meer die dinge waarvan Jesus hou.

So dikwels vra ons: Here, waar is U? So dikwels sit ons in sak en as omdat ons alweer verkeerde keuses gemaak het en dan wonder ons hoekom Jesus ons nie tot dieper insigte gelei het nie. Wel, hier is die antwoord: Bring meer tyd met Jesus deur. Dan sal jy presies weet hoe om die lewe daar buite te leef. Wanneer jy genoeg tyd afsonder en by Jesus sit, stap Jesus as’t ware saam met jou. Dan is dit maklik om die regte keuses te maak, want jy raak al hoe meer soos Hy.

Jy dink soos Jesus. Jy praat soos Jesus. Jy doen soos Jesus. Jy is soos Jesus.

En dit is God se plan vir my en jou. Elke mens op aarde se skeppingsdoel is om soos Jesus te word: 10… So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees.

So baie mense sê dat hulle nie weet hoekom hulle op die aarde is nie. So baie wil graag weet wat hulle gawes is en wat hulle vir die Here hier op aarde moet doen. Wanneer ’n mens agterkom waarvoor God ons gemaak het, val al die ander vrae en onsekerhede in plek. Dan, ewe skielik, kry jy hope energie om dit te doen waarvoor God jou geroep het. En ’n hoop vreugde en vrede borrel hier binne jou.

Mag jy meer tyd inruim vir Jesus. Mag jy soveel tyd in Sy teenwoordigheid deurbring dat jy soos Hy raak. Ja, mag jy dink soos Jesus, praat soos Jesus en doen soos Jesus.

Teks

Kolossense 3:9-11

Om oor na te dink

Lyk jy soos Jesus?

Hoeveel tyd maak jy vir Hom deur jou besige dag?

Hoe moet jy anders?

Gebed

Jesus, dankie dat U vir ons die perfekte voorbeeld is om na te volg. Ek het rigting nodig en ek weet U is die enigste rigtinggewer wat regtig die pad van die lig aandui. Ek besef elke keer dat ek U meer in my daaglikse aktiwiteite moet betrek. Ek wil graag U doel vir my lewe uitleef. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek