Doen reg, al doen jy of ander verkeerd
Ek vat die langpad na die noorde. Ek hou van ry, maar die stuk tussen Laingsburg en Beaufort-Wes is maar altyd uitmergelend en soos gewoonlik slaap my passasiers al te lekker.
Ek het Jakaranda FM se toep afgelaai en ek hoor ’n advertensie van hul potgooiprogram wat handel oor die groot misdade in Suid-Afrika. Dis eintlik ontstellend, maar dit maak die pad korter.
Wat my seker die meeste ontstel het, was die verhaal van die Griekwastad moorde. Die jong seun, toe net 15, wat heel waarskynlik die verkragting van sy suster wou wegsteek deur nie net vir haar nie, maar ook beide sy ouers koelbloedig dood te skiet.
Ek was naar en kan nog steeds nie glo dat iemand tot so iets in staat is nie. Ongelukkig gebeur sulke aaklige verhale gereeld, waar iemand hul familie eenvoudig net uitwis.
Ook in Bybel lees ons daarvan. 12Moenie soos Kain wees nie. Hy het sy broer vermoor omdat hy sleg van binne was. Jy sou kon vra wat hom gedryf het om dit te doen. Wel, hulle het nie langs dieselfde vuur gesit nie. Kain het dinge gedoen wat sleg was, maar sy broer het dinge gedoen wat voor God reg was.
Kain was jaloers en het toegelaat dat sy woede teenoor sy broer hom tot moord dryf. Jaolesie en woede omdat sy offer nie vir God aanvaarbaar was nie, maar sy broer s’n wel.
Kain se hart was nie reg nie. En dis presies wat vir God belangrik is, want as jou hart nie reg is nie, beïnvloed dit jou dade. Daarom het God vir Kain in Genesis 4:7 gesê hy moet die sonde oorwin en sy gesindheid regkry. Hy het dit nie gedoen nie, en die gevolge was katastrofies.
Dit gebeur as ons toelaat dat woede en jaloesie ons harte verhard.
Hierdie is ekstreme voorbeelde, maar tog die gevolg as ons nie God deel maak van ons lewe en onder Sy beheer staan nie. Dan vang ons dinge aan wat mense se lewens verwoes.
Dalk staan ons nie in die ry om mense se lewens te neem nie, wel nie fisies nie, maar soms kan ons optrede mense só seermaak dat hulle nie normaal kan funksioneer nie.
Dit gebeur as God nie in ’n mens se hart is nie.
Ons moet seker maak dat ons onsself beskerm teen onsself. Dit klink erg, maar soms, wanneer ons voel ons word benadeel en iets van ons weggevat word, maak ons verkeerde keuses uit die self uit.
Wanneer ons dinge aanvang wat nie reg is nie, wil ons dit regmaak deur verkeerde dade. ’n Minus plus ’n minus bly ’n minus. Nee! Dit raak ’n groter minus. ’n Groter negatief.
Ons maak foute. Ons word benadeel en dis normaal om dit te probeer regmaak. Maak net seker dat ons reg doen in God se oë, die pak te vat vir ons verkeerde dade of ander se verkeerde dade en in vrede saam met God en die mense om ons te lewe.
Teks
1 Johannes 3:11-18
Om oor na te dink
Watter foute maak jy nog?
Beskerm jy jouself?
Beskerm jou optrede ander?
Gebed
Vader, mag ek dit tog nooit verloor en ander seermaak nie. Amen.
