God se Woord in vandag se woorde

Duik in Jesus se oop arms


’n Vriend van my vertel ’n storie uit hul bediening:  

Na ‘n paar jaar bring Anja, ons tolk, ons weer in kontak met Eduard – destyds die leier van ons bediening in Belarus en ‘n goeie vriend. Intussen het hy homself as vlugteling in die VSA gevestig. Hy bestuur vragmotors en is twee maande op ‘n slag weg van die huis af. Hy ry elke dag ‘n minimum van 1100 km.  

Uit dankbaarheid vir finansiële hulp wat hy destyds uit SA ontvang het, wil hy graag bydra tot die opleiding van kinders in RSA. Hy stuur R34 000.00,  genoeg om twee seuns by Calling Academy te borg. Dit is ’n skool wat deur Christene begin is om gehalte christelike opvoeding aan kinders wat in armoede leef, beskikbaar te maak.  

So ontmoet ons een van die leerlinge wat by sy pensioenaris-oupa bly. Sy pa is onlangs vermoor. Sy ma is in die Oos-Kaap wat as hoërskooldogter swanger geraak en hom in die lewe gebring het. Eduard se bydrae het hierdie kind se lewe tasbaar verander.  

Eduard verstaan wat Jesus hier op aarde kom doen het en probeer soos Hy ’n verskil maak. Deur sy gehoorsaamheid kry twee kinders wat glad nie ’n kans gehad het nie, nou wel ’n kans op goeie onderwys. 

Wanneer ’n mens ja gesê het op Jesus se roepstem, wanneer die Heilige Gees Sy intrek in ’n mens se lewe geneem het, kan jy nie anders as om ook soos Jesus hier op aarde te leef nie.  

’n Mens wil wegbreek van die ou manier van leef. ’n Mens wil nie meer die verwoestende lewe leef waar ander as gevolg van jou dade selfs swaarder gekry het nie. Nee, ’n mens wil ’n lewe leef waar jy lewe bring.  

Ek dink dis seker die eerste vraag wat ’n nuwe bekeerling vra: hoe lyk so ’n nuwe lewenstyl? Hoe moet jou lewe lyk as jy Jesus as jou Verlosser aanvaar het en nie meer wil doen soos die ou mens nie? 

Die antwoord is eintlik baie eenvoudig. Leef presies soos Jesus op aarde geleef het. Laat Hy jou rolmodel wees. Volg in Sy voetspore en doen soos Hy gedoen het toe Hy op aarde geleef het. 

Eintlik is dit ’n opdrag: 28My liewe kinders, konsentreer nou daarop om baie naby aan Jesus te bly leef. Julle vra waarom. Wanneer Jesus sigbaar terugkom, sal julle dan nie so skaam hoef te voel dat julle wil weghardloop nie. Nie kop onderstebo nie, maar met oop arms sal julle Hom dan kan verwelkom. 

Eduard sal nie kop onderstebo loop of wil weghardloop as Jesus weer kom nie. Nee, hy sal met oop arms na Jesus toe hardloop en Jesus sal Hom vasgryp. Blydskap sal in hul omhelsing oorloop.  

Want Eduard het presies gedoen soos Jesus.  

Ons moet só leef dat wanneer Jesus hier op aarde opdaag, ons ook in Sy oop arms sal hardloop. Ons moet seker maak hoe Jesus hier op aarde geleef het en dan presies net so gaan leef. Laat ons ’n verskil maak orals waar ons gaan. 

Teks
1 Johannes 2:24-29 

Om oor na te dink
Weet jy hoe Jesus gelewe het?
Hoe sou Jesus vandag in jou lewe geleef het?
Wat sou Hy anders gedoen het as jy? 

Gebed
Jesus, dankie vir die voorbeeld hoe ons moet lewe hier op aarde. Maar, Jesus, ek kry dit nie aldag reg nie. Help my met U Gees om te sien waar ek anders moet leef en dit dan juis so gaan leef. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek