Extreme Makeover
Jare gelede was daar ’n TV-reeks, Extreme Makeover Home Edition. In die program het ’n groep kundiges ’n afgetakelde huis binne sewe dae heeltemal oorgedoen of selfs in sekere gevalle die hele ou huis platgeslaan en dan ’n nuwe een gebou.
Die familie is vir die tydperk met vakansie gestuur en gepamperlang. Op die laaste dag word hulle teruggebring, maar kan niks sien nie, want daar is ’n bus wat in die pad staan.
Die skare begin dan skree: “Move the bus! Move the bus!” As die nuwe huis uiteindelik in sig kom, word die eienaars oorval met vreugde. Hulle spring op en af en kan hulle oë nie glo nie.
Soos hulle deur die huis stap, val hul kakebene amper tot op die grond. Die ou vervalle huis, omgebou in ’n droomhuis. Met elkeen se behoeftes aangespreek. Voorwaar ’n splinternuwe ervaring om nou terug te keer na hul ou huis.
Jesus was ook deel van so ’n program, maar Sy program is net soveel groter. ’n Program wat nie uitgesonder is vir ’n paar gelukkige individue nie. Nee, Jesus se Extreme Makeover-program is daar vir elkeen wat in Hom glo en Hom as hul persoonlike Verlosser aanvaar.
Hierdie program van Jesus het begin toe Hy na die aarde toe gekom en mens geword het. Hy het deur die stofstrate van Israel geloop en aan die mense Sy Extreme Makeover-program bekendgestel. Hy het presies verduidelik hoe die ou “huis” vervang gaan word deur ’n nuwe ene.
Baie mense wat dit gehoor het, kon dit nie verwerk nie. Hulle kon dit nie glo nie en het gedink dit is onmoontlik. Die kerk van daardie jare het so vêr gegaan as Hom tot ’n leuenaar te maak en die staat gevra om Hom dood te maak.
Gelukkig was daar ’n groepie wat geroep was om agter Hom aan te stap en hulle het ingekoop in die Extreme Makeover-program. Hulle het Hom gevolg en aandagtig Sy draaiboek begin verstaan.
Die klimaks van die program was nie vir een van Sy volgelinge maklik nie, maar dis juis hier waar die extreme makeover begin: 20God het ons Here Jesus uit die dood laat opstaan. Deur die bloed van hierdie Jesus het daar ’n nuwe ooreenkoms tussen God en ons tot stand gekom. Die ooreenkoms sal vir ewig en altyd bly staan.
Die ou moeilike, wettiese, beperkende ooreenkoms, is vervang met ’n maklike, vry, vol genade ooreenkoms. Deurdat Jesus se bloed aan die kruis gevloei het, hoef die mens nie meer te swoeg om in die hemel in te kom nie. Die mens hoef nou net sy sondes te bely, dan is God regverdig om ons dit alles te vergewe en staan die hekke van die hemel vir ons oop.
Watter groter voorbeeld is daar van ’n extreme makeover?
Die vraag is nou net of jy regtig daarby inkoop en of jou lewe regtig van die nuwe ooreenkoms getuig?
Teks
Hebreërs 13:17-21
Om oor na te dink
Glo jy in die makeover?
Praat jy daaroor?
Leef jy dit?
Gebed
Sjoe, Vader. Hoe kan ’n mens anders as om oorrompel te word deur die nuwe ooreenkoms? Dis so ’n groot teken van U liefde vir ons. Help my om dit uit te leef orals waar ek gaan. In Jesus se Naam, amen.
