Gaan vra tog vir God
Êrens in die mens se mondering het dit vir ons moeilik geraak om hulp te vra. Dalk het dit wat ander mense van ons dink, meer belangrik geraak as om net ’n vraag te vra om lig in die duister te bring.
Blykbaar is mans nie goed daarmee om rigting te vra nie en sal eerder draaie om die verkeerde adres ry. Hoekom sal dit dan nou so wees? Het iemand êrens in die verlede gesê dat mans die kenners van rigting moet wees en as dit nie so is nie, is hulle swakkelinge?
Nou vra die mans niks nie en ry liters duur petrol uit. Nou ry mans maar al in die rondte, net omdat hulle bang is hulle word as ’n mislukking geherklassifiseer. Jy kan mos net vra, of hoe?
Nee, alle mans is nie so nie, maar hier is ’n tendens wat oor alle mense in alle situasies se boeg gegooi kan word. Baie keer is ons te bang om te vra, want netnou dink ander mense sleg van ons.
Eintlik is dit die teenoorgestelde. Deur vrae te vra, deur hulp te vra, deur rigting te vra, wys eintlik dat jy nie bang is om te sê jy weet nie nou nie. Jy is nog minder bang om jou hand op te steek en te sê, “Leer my. Wys my waar ek nie weet nie. Ek wil graag meer weet.”
Baie keer by die stopstrate van die lewe, doen ons ons eie ding en dan is ons keuses nie so vars nie. Die gevolge is nog minder lekker. Is dit ook omdat ons bang is om ons hand op te steek en rigting te vra? Is ons bang ons word geklassifiseer as nie in beheer nie?
Dalk is ons bang vir God se reaksie. Dalk is die vraag eintlik so eenvoudig en dalk het iemand dit in ons koppe gedruk dat ons al seker lankal verby daardie punt in die lewe is. Hoe kan ons met so ’n vraag by God opdaag?
Weereens is dit eintlik net die teenoorgestelde. God wil ons help. Hy sit met al die antwoorde. Hy sit met al die wysheid. Hy wil ons die seer en swaar spaar en ons na die regte plek neem.
Maar ons is te bang, want sê nou maar net … Sê nou maar net God lag vir ons of selfs raas met ons omdat ons (weer) met die ou eenvoudige vragie by Hom opdaag. Hier moet ons ’n pen inslaan en die volgende vers uit ons kop gaan leer: 5… Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie.
Dis nou tyd om ons skaamte in ons sak te steek. Dis tyd dat ons ’n leergierige geaardheid aankweek. Dis tyd dat ons besef om by wysheid uit te kom, moet ons vrae vra. Ons moet by God uitkom en vir Hom rigting vra.
Hy sal niks snaaks van ons dink nie. Inteendeel, Hy sal bly wees daaroor. Ons op Sy skoot tel en ons presies wys watter tree ons volgende moet gee.
Teks
Jakobus 1:1-8
Om oor na te dink
Vra jy graag?
Waaroor sukkel jy om te vra?
Hoe moet jy maak om vir God alles te vra?
Gebed
Vader, dit is nie altyd vir my maklik om te vra nie. Dankie vir die belofte dat U niks sleg van my sal dink as ek met my pakkie vrae na U toe sal kom nie. Help my om meer te vra. In Jesus se Naam. Amen.
