Gebed met geloof wat dik loop
Filemon was ’n wonderlike brief. Paulus se passie is duidelik te sien. Ek het baie by hom en die ander karakters in die brief geleer. Hier is die laaste een en dit gaan oor gebed.
Kyk net hoe glo Paulus dat sy en Filemon se gebede waar gaan word: 22Jy kan ook solank jou gastekamer vir my begin gereedmaak. Binnekort kom ek weer daar na julle toe. Julle bid mos lankal tot God dat ek vrygelaat word en weer na julle toe kom.
Paulus sit in die tronk, maar sê reeds vir Filemon om solank die bed op te maak, want Hy is op pad!
Ons moet ook so bid. Gebed met geloof wat dik loop. Soos Herbert ook gebid het:
Ek kan vanoggend met dankbaarheid getuig dat God gebede antwoord, al dink ons soms ons vra verregaande goed.
My dogter is in ‘n winkelsentrum deur ’n gryp–en-gaan dief beroof en haar handsak met haar motorsleutels, selfoon, bank- en kredietkaarte en lisensie is onder andere gesteel. Sy was geskok, maar verder ongedeerd.
Ek het eers woede in my voel opbou oor die onregmatigheid wat my enigste lieflingkind oorgekom het. Ek wou eers die booswig vervloek, maar Heilige Gees het my gelei en gesê dis nie die opsie nie.
Ek begin toe bid en dank God dat Patricia nie seergekry het nie, maar vra ook tog vir Vader die volgende:
“Here, U is altyd beheer van elke saak. Dankie dat Patricia nie seergekry het nie, maar Vader ek bid dat U op ‘n BONATUURLIKE manier haar goed aan haar sal terugbesorg.”
Ek dank God en sluit af, maar moet bieg dat ek nie geweet het dat God sulke bonatuurlike dinge in plek sal sit nie.
Sowat twee ure later bel ’n man my vrou en sê dat hy tussen die klere wat hy in ’n ander winkelsentrum moet regpak, sowat 20km van waar die roof plaasgevind het, Patricia se beursie gevind het.
Patricia sê toe sy deur die beursie gaan, is al haar kaarte nog daar, net rondgeskuif. Haar lisensie is op ’n ander plek ingedruk, maar steeds daar. Sy maak ’n ritssluiter in die beursie oop en die een wat dit geneem het, het haar kar se sleutels en haar foon se simkaart daarin geplaas.
Weereens wys God hoe Hy kan antwoord as ons vra. Nie net het Patricia ongeskonde uit die voorval gekom nie, maar het sy die ongerief van kaarte, lisensies, verlore telefoonnommers en motorslot-verandering vrygespring.
Ek kry ’n glimlag om my mond toe ek die laaste paragraaf lees:
Dalk het die rower nie eers besef hoekom hy of sy die goed doen en alles terugsit nie, maar as God praat, luister almal – elke knie sal buig en elke tong bely …
Ons moet bid met die geloof dat God luister. Ons moet glo dat God ons gebede waar sal maak.
Teks
Filemon 1:22-23
Om oor na te dink
Glo jy in gebed?
Glo jy wanneer jy bid?
Verwag jy iets?
Gebed
O God, ek glo so in gebed, anders sou ek nie nou gebid het nie. Sonder gebed sal ons dit nie maak nie. Help my om te glo as ek bid, dat U hoor en iets sal doen. In Jesus se Naam, amen.
