Geloof deur die pyn
Wanneer dit rof gaan, sukkel ek om die blink randjie van die wolk raak te sien. Dan is dit nie maklik om my kop op te lig en krag uit die swaar te kry om net normaal aan te stap nie.
Dit is veral in sulke tye wanneer hierdie vers vir my moeilik verteerbaar is: 2My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees.
Dit het seker te maak met volwassenheid in jou Christenskap. Daarom leer ek so baie by Ellie (skuilnaam):
Om vir God te kies of nie, is ‘n uiters moeilike saak. Ek het die Here met alles in my gedien, maar toe word ek siek. Baie siek! Die dokters het nie geweet wat fout is nie. Ek het so baie gewig verloor en het sleg gelyk. Ek het ophou bid, want in my angs het ek geroep na die Here, maar Hy het nie geantwoord nie. Uiteindelik is ek met depressie en angsaanvalle gediagnoseer en word ek op medikasie geplaas om dit te beheer.
Dinge het beter en beter geword en ek kon voel die medikasie doen sy ding. Ek het weer gewig opgetel en beter gelyk. Maar alles sonder dat ek die Here dien. Want waar is God in my nood? Hoekom antwoord Hy my nie?
Eendag, nie te lank terug nie, besluit ek dat ek tog die Here wil dien, want aan Sy liefde en genade is daar geen einde nie. Ek stof my Bybel af en begin weer lees en bid, sommer saam met my kinders ook.
Kort hierna kom die angs so erg terug, dat ek nie kan werk nie. My man, dank die Heer vir hom, praat met my en sê my dat ek weer angs kry, omdat ek die Here weer begin dien het.
Maar sien, dis nie die Here se skuld nie. Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind. Uit God se Woord kry ek soveel bemoediging en ek weet Hy is by my.
Ek weier dat die duiwel my lewe oorneem en weer van my niks maak nie. Ek maak die keuse om God, Jesus en die Heilige Gees te dien, ten spyte van die angs. Ek weet dat Hy my gebed sal verloor. Ek twyfel nie meer nie.
Selfs met my angs, dien ek die Here. Ek het nou die Bybel om teen die duiwel te veg. Die Heilige Gees help my om Bybelverse te onthou, wat ek nooit voorheen onthou het nie. Ek glo dat met tyd, my depressie en angs sal verdwyn, want God is goed. Ek moet net stewig in die Woord bly staan.
Ek het ‘n keuse gemaak. Ek dien nou die Here, maak nie saak wat nie. Al moet ek bewerig die Bybel oopmaak en lees. Soms verstaan ek nie eens wat ek lees nie, want die angs is erg, maar ek kies God deur dit alles. Ek weet alles sal weer eendag okay wees en dat ek my getuienis ook daar buite kan uitkry vir mense wat deur dieselfde gaan.
Ek haal my hoed af vir Ellie. Sy leer vir my, vir ons, om te bly glo, al is alles in pyn.
Teks
Jakobus 1:1-8
Om oor na te dink
Hoe dik is jou geloof?
Leer jy deur pyn?
Leef jy deur pyn?
Gebed
Vader, ek moet bieg dat pyn soms my geloof steel. Help my om die groter prentjie raak te sien. Help my om deur my pyn stewig te staan en toe te laat dat ek deur die seer gevorm word. In Jesus se Naam. Amen.
