Genade by die genadetroon
Carien (skuilnaam) skryf vir my:
Ek was een van daai mense wat gesê het die lewe gebeur. Ons sê ons moet by die of daai mense uitkom. Maar as jy jou weer kom kry, is dit te laat.
Desembermaand het ek vir ‘n roetine mammogram gegaan, toe ontdek hulle ‘n klein verkalkinkie. So moes ek toe in Desember vir ‘n biopsie gaan.
‘n Week daarna bel hulle. Dis semi-slegte nuus. Dis toe ‘n klein kankertjie, maar volgens haar ‘n goeie kankertjie.
Ek is die 15de Januarie geopereer. Die patoloog was tevrede met my kliere. Die chirurg het my kom sien en gesê dit is pragtig skoon, maar hy het ‘n bietjie dieper gesny en dit weggestuur vir toetse.
Die twee weke wag, was eindeloos lank. Toe gaan sien ek hom. Alles pragtig skoon.
Ek is dankbaar, ek sê elke dag dankie vir onverdiende genade.
Onverdiende genade. Ja, vir seker onverdiend. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang … (1983-vertaling)
Kort jy vandag ’n bietjie genade? Gaan dan na die genadetroon toe. Daar is sakke vol genade.
Patricia (skuilnaam) ervaar die genade ook aan haar lyf:
Ek is besig met bestraling. Ek besit ’n klein besigheid en is baie afhanklik van my kliënte om maandeliks op datum te betaal. Soos met enige besigheid, is daar debietorders wat op die eerste van elke maand afgaan.
Op 1 Februarie, die oggend, kyk ek na die bankstaat op my tablet en met ’n skok sien ek geen betalings is gemaak nie. Ek plaas my hand op die staat en bid: “Asseblief Jesus, neem hierdie bankstaat, ek kan nie met die bestraling en die bankstaat cope nie.”
Net voor ek vir behandeling gaan, sien ek die bank het geskakel, ek het nie die selfoon hoor lui nie.
Terwyl ek by onkologie uitstap, sit ek my selfoon aan en weet ek moet heel eerste die bank skakel. Met die aansit, lui my selfoon. Dis die kantoor. ’n Kwotasie wat ons in die vorige jaar gedoen het, is aanvaar en die kliënt betaal dadelik die deposito oor.
Nodeloos om te sê, oorskry dit die bedrag wat ek nodig gehad het. Ek het net daar gebid met trane wat vrylik loop.
Wat die wonderlikste is, dit was net ’n een sin gebed en God het gehoor.
Ons dien ’n groot, almagtige en genadige God wat altyd luister.
Dalk is dit tyd dat jy ook na die genadetroon toe stap …
Teks
Hebreërs 4:12-16
Om oor na te dink
Glo jy dat God nog genade uitdeel?
Waar kort jy genade?
Wanneer kan jy stil word?
Gebed
Vader, dankie vir die belofte. Dankie vir die genadetroon. Ek het so baie daarvan nodig! Amen.
