Genade na val
Genesis 20-21 Noag was ’n boer en hy was die eerste mens wat ná die vloed weer ’n wingerd geplant het. Hy het wyn gemaak en daarvan gedrink. Hy het te veel gedrink en dronk geword. Toe het hy sonder klere op sy bed in die tent gaan lê.
Ai. Ná die worstel met Adam en Eva sou ‘n mens dink ons is nou eers klaar met die sonde. Maar nog is dit het einde niet. Noag, die man wat God so getrou gehoorsaam het dat hy selfs ‘n ark op droë grond gebou het terwyl ander vir hom gelag en kritiseer het, het ook voete van klei gehad.
En Noag maak ’n voetfout. Hy drink te veel mos en, soos die manne op die straat sê, pass uit op sy bed, sonder ‘n draad klere aan. In ’n oomblik van swakheid struikel Noag en val, gelukkig op sy bed.
En God? Wat het God gedoen toe hierdie voorbeeldige kind van Hom struikel? Eintlik moet ’n mens vra wat Hy nie gedoen het nie. Hy het nie die verbond gekanselleer nie. Hy het nie weer ’n vloed gestuur nie. Hy het nie vir Noag weggejaag nie. Nee, God vergewe. En daarna leef Noag nog 350 jaar!
Dis die God aan die ander kant van Noag se intieme verhouding. ’n God wat verstaan dat ons harte soms skeef trek en wat gereeld hunker na die verkeerde kant en dinge doen wat nie Sy wil is nie.
Dit is dieselfde God aan die ander kant van jou verhouding met Hom. ’n God wat vergewe. ’n God wat nie Sy beloftes terugtrek wanneer jy struikel nie. ’n God wat so lief is vir jou dat Hy bereid was om Sy Seun aan ’n kruis te laat sterf sodat Hy die pak, ek bedoel die dood, vir jou sondes kon dra.
Genade beteken nie dat ons nooit val nie. Dit beteken God laat ons nie lê nie. Hy kanselleer nie Sy verbond oor jou swak oomblikke nie. Hy kom bedek jou skaamte en roep jou weer nader. Noag se storie sê vir ons: Staan op. Maak reg. Bou verder onder die boog van genade.
Erken jou misstap, bring dit eerlik na God, en begin vandag weer. Sit eenvoudige grense in plek sodat jy nie weer oor dieselfde klip struikel nie. Onthou, die reënboog staan nog. Sy verbond is steeds in plek, en jy kan weer opstaan.
Gebed
Vader, ek pas ook perfek in hierdie verhaal van Noag. Ek maak ook voetfoute en val gereeld. Dankie dat U my help en my elke keer vergewe. Ek wil meer en meer volgens U wil lewe …
Vrae
Waar het jy onlangs geval en skaam geword?
Hoe ervaar jy God se bedekking en genade?
Watter grens help jou om nie weer te val nie?
Doen dit nou
Erken eerlik jou eie val. Bring dit na God toe sonder verskonings en aanvaar Sy vergifnis met ’n dankbare hart.
Sit ’n nuwe grens in plek waar jy weet jy maklik struikel. Wys dat jy leer uit jou mislukkings.
Dank God vandag vir Sy genade. Sê hardop: “U kanselleer nie U beloftes oor my foute nie,” en leef met nuwe vrymoedigheid.
