God se Woord in vandag se woorde

God keer soms


Numeri 22:28-29 Toe laat die Here die donkie deur ’n wonderwerk met Bileam praat. “Dit is nou al die derde keer dat jy my so slaan,” het die donkie skielik vir Bileam gesê. “Wat het ek aan jou gedoen om dit te verdien? “Jy hou my vir die gek,” het Bileam gesê, “as ek ’n swaard by my gehad het, het ek jou net hier doodgemaak!”

Sjoe, maar Bileam, die profeet, is woes kwaad. Ons sou seker ook kwaad gewees het as ons vervoer, wat ons by ʼn baie belangrike afspraak moet uitbring, so steeks is. Die donkie het sommer net die veld in gehol. Toe het hy teen ʼn muur geskuur en Bileam se voet vasgedruk, en laastens het hy sommer net in die pad gaan lê.

Bileam kon egter nie sien wat die donkie sien nie. Die donkie het die engel van die Here voor hom gesien en natuurlik het hy hom asvaal geskrik. Daarom die drie maniere waarop hy homself wou beskerm.

God laat dan die donkie praat om vir Bileam te vertel wat aangaan. God het die engel gestuur om vir Bileam te keer dat hy homself teen ʼn muur vasloop. Jy sien, koning Balak het hom laat kom omdat hy bang was vir die magtige Israeliete. Bileam moes die volk vervloek.

Bileam se oë gaan oop. Hy sien die engel en hy hoor die donkie. Hy besef hy is op pad om verkeerd te doen en God steek ʼn stokkie daarvoor. Vier keer probeer koning Balak hom kry om die volk te vervloek, maar in plaas daarvan seën  Bileam God se volk.

God druk ook baie keer stopbordjies voor ons in. Dan raak ons woes kwaad. Ons wil ook slaan en skop en ons pad deur die toe deur probeer storm.

Ons sit vir lank agter ʼn trok vas en raak geïrriteerd. Ek het egter geleer om rustig agter die trok te sit en wag, want sien, ek kan nie daar doer voor sien wat gebeur nie. Dalk is dit juis die paar minute wat ek agter die trok sit wat keer dat ek nie in ʼn verskriklike ongeluk beland nie.

Dis nie maklik wanneer ons spoed gebreek word nie, maar soms moet ons net rustig wag. Dis dalk net God wat keer dat ons onsself te pletter loop. God is betrokke by Sy kinders en Hy sorg elke dag vir ons. Soms neem dit net ʼn steeks donkie om ons spoed te breek.

Gebed
Almagtige Vader, dankie dat U nog by my is en my help. Help my om spoed te verminder en sensitief te wees vir U leiding …

Vrae
Waar in my lewe ervaar ek tans “weerstand” wat my frustreer?
Kan dit dalk wees dat God my beskerm deur my te keer?
Hoe reageer ek wanneer dinge nie uitwerk soos ek beplan het nie?

Doen dit nou
Dink aan iets wat onlangs nie uitgewerk het soos jy wou nie en skryf dit neer.
Vra vir God in gebed om vir jou te wys of Hy jou dalk beskerm het.
Kies vandag om stadiger te beweeg in een besluit en wag doelbewus vir God se leiding voordat jy optree.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek