God se genade is by jou
Dié brief van Filemon was heel interessant en ek het baie geleer. Ek kan nie glo dat dit al die 21ste keer is dat ons by die brief met 25 verse stilstaan nie.
Soos gewoonlik, sluit Paulus af met ’n groet en seën ons: 25Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees! (’83-vertaling). En dadelik vra ek: Waar? Waar is God se genade, want hier in die wêreld is daar net dinges en hare. Is God se genade regtig hier in die wêreld vandag?
Ek kry die e-pos van Moné:
Ek is soooo bitter jammer vir julle oor julle verlies en my hart gaan uit na julle. Dit is nie hoe die lewe veronderstel is om te werk nie. ’n Ouer moenie sy kinders begrawe nie.
Ek wil vandag iets persoonlik met jou deel.
Ek het in ‘n Christelike huis groot geword en het ’n wonderlike voorbeeld in my ouers gehad. As die jongste van vyf kinders (die jongste en oudste is meisies en die middel drie is seuns) wil ek vandag vir jou sê, ek verruil my kinderdae en ons gesin vir absoluut niks in die wêreld nie.
Maar die lewe is nie regverdig nie en deel soms sulke harde en skewe klappe uit, dat jy wonder of dit nou regtig nodig was.
In 2003 is my tweede oudste boetie wreed deur inbrekers in sy huis vermoor en in 2006 is my sussie deur haar man doodgery. Dit was vir ons as familie ’n bitter moeilike tyd en die omstandighede en alles wat daarmee saam gegaan het, was net ondenkbaar.
Dan is my liefste Dad op 82 jaar die 25ste September oorlede en my moeder is nou alleen …
Wat ek eintlik vir jou wil sê, is dat deur dit alles my ouers se geloof nie een dag minder geword het nie. Inteendeel, dit het net sterker geword en ek het my daaraan verwonder, want ek was en is steeds soms nog baie verbitterd.
My ma se woorde aan my sal my altyd by bly en sprakeloos en in verwondering laat: “My kind, as dit nie jou boetie/sussie was nie, wie sou jy wou gehad het moes dit wees?”.
Ek laat jou met dit vanoggend en bid werklik vir vertroosting, want dit is nie ’n maklike pad nie.
Aangrypend, ons ouers. Hulle wat ons leer van geloof en wysheid. Hulle wat ons wys wat ons moet maak met die swaar in die wêreld. Wys dat ons geloof in God net moet sterker word, al wil die antwoorde van baie van ons vrae nooit opdaag nie.
Deur hulle geloof kan ons bly vashou en glo en weet dat 25Ons Here Jesus Christus se goedheid by elkeen van ons is …
Teks
Filemon 1:23-25
Om oor na te dink
Waar lê jou swaar?
Sukkel jy om aan God vas te hou?
Glo jy dat Hy altyd goed is?
Gebed
Here, help my om te bly vashou en glo aan U genade en goedheid. Nie net wanneer dit goed gaan nie, maar veral wanneer dit sleg gaan. Dankie dat U ons nie net alleen los met die gemors nie, maar dat U belowe om by ons te wees en eendag al die pyn sal wegneem. In Jesus se Naam, amen.
