God staan agter die gordyn
Ek het al die storie vertel van ons vier vriende wat vir ons ander vriend in Australië gaan kuier het. Dit was ’n verskriklike lekker tyd saam en ons het baie sports gehad. Ons was ook vir ’n week op ’n seiljag naby die Great Barrier Reef.
Ons het elkeen ’n taak op die seiljag gehad en myne was om die anker te beman. Ek het soveel dinge van ’n anker geleer. Ek het geleer hoe dit gesak moet word en weer opgetrek moet word. Daar is egter ’n klomp dinge wat jy nie moet doen nie, want dan kan jy die boot beskadig.
Die belangrikste egter, is om seker te maak dat die anker op die regte plek laat sak word, want as daar nie genoeg klouplek vir die anker is nie, help dit nie eintlik nie. Dan sal die boot maar net verder en verder in die moeilikheid gewaai word.
Net so moet ons geloofsanker ook êrens stewig vashaak of inhaak. Dit help nie ons het ’n anker vir ons geloof maar dit hak op geen plek nie. Ons anker hak in die hoop van die hemel vas.
19Om God so te vertrou is soos ’n geestelike anker. Dit gee ons lewe vastigheid en sekerheid. Dit verbind ons ook direk met God self in die heiligste van heilige plekke.
Met die heilige van heiligste plekke bedoel die skrywer die heiligste gedeelte van die tempel wat altyd vir die volk van God die plek was waar God gewoon het. Die hoëpriester kon slegs een keer per jaar daar ingaan.
Die ’83-vertaling vertaal dit soos volg: 19Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.
Die volk van God het vasgehou aan die hoop dat God daar agter die gordyne is. As dit moeilik gegaan het en hulle aangeval is of as hulle amper dood is van die honger, wanneer hulle drome in stukkies geval het, het hulle vasgehou aan die geloof in die wete dat God daar agter die gordyne is.
God sal Sy volk nooit alleen laat nie. Al het hulle so dikwels dwarsgetrek. Al het Hy soms vir hulle so kwaad geword, het Hy hulle elke liewe keer vergewe en weer in Sy arms teruggeneem. Die volk van God het hul anker daar gegooi. Agter die gordyne waar hulle geglo het, gewéét het, God wag vir hulle.
Die plek waar ons die anker gooi, het nie verander nie. Ons moet ons anker laat sak daar waar God woon. In die Allerhoogste. Want daar sal ons anker nooit uitglip nie. Maak nie saak hoe erg die storms is nie. Maak nie saak hoe groot die kragte is wat jou wil afsleep nie. Die krag wat jou anker agter die gordyn vashou, is eenvoudig net te groot.
Wanneer jy jou hoop in God plaas en weet dat Hy daar agter die gordyn besig is om jou planne te laat uitwerk, sal jou skippie nooit op die rotse loop nie. Wanneer jou anker, jou hoop, in God is, kan jy die wêreld instap, met jou kop omhoog. Al bewe jou broek vir jou omstandighede, weet jy dat dit jou nie sal onderkry nie, want agter die gordyn staan God en Hy beskerm jou orals waar jy gaan.
Teks
Hebreërs 6:13-19
Om oor na te dink
Lê jy na aan die rotse van die lewe?
Waar is jou anker laat sak?
Waar is God?
Gebed
Onse Vader, U is die groot krag. U hou alles in stand. U hou U kinders styf vas. Help my om my anker in U vas te maak en dit nooit weer los te maak nie. In Jesus se Naam, Amen.
