God se Woord in vandag se woorde

God trek saam


Eksodus 40:38 Terwyl Israel op pad was na die land wat die Here vir hulle sou gee, het hulle die hele tyd gevoel dat die Here in die tent was. Hulle het dit gesien aan die wolk wat bo die tent gehang het. In die nag was daar ’n bol vuur wat hulle verseker het dat die Here by hulle is.

Hier kom ons nou by die groot slottoneel van Eksodus. Ná al die drama in Egipte, die uittog, die wonder van die Rooisee en die gebeure by Sinai, bereik die storie sy hoogtepunt: God trek in!

By Sinai ontvang Moses die bouplanne van die tabernakel, ʼn tent van ontmoeting. Dit is ʼn draagbare heiligdom waar God tussen Sy volk sou woon. Dis amper ondenkbaar dat die Skepper van die hemel en aarde kies om naby mense te wees.

En toe, voordat alles voltooi is, maak die volk weer ʼn groot fout en bou ʼn goue kalf.

Maar juis hier leer ons ʼn wonderlike eienskap van God: Sy oorvloedige genade. God is so lief vir Sy volk dat Hy hulle nie gee wat hulle verdien nie. Nee, Hy gee aan hulle nog ʼn kans.

En dan gebeur dit: God neem Sy intrek in die tent. Sy teenwoordigheid word sigbaar gemaak deur dieselfde wolk en vuurkolom wat hulle uit Egipte gelei het. Hy is nie meer net die Een wat vir hulle die rigting wys nie, maar Hy is nou die Een wat tussen hulle woon.

Hulle kan nou heeltyd sien dat God daar is. Hulle kan dit ervaar. Hulle weet wanneer om te trek en wanneer hulle eers moet laag lê. Nou leef hulle nie meer soos hulle wil nie, maar in afhanklikheid van God.

En dit was nog altyd God se droom. Hy het hulle nie uit Egipte gered om hulle op hul eie te los  nie. Hy het hulle gered om naby Hom te wees. Om saam met hulle te leef.

En dis presies dieselfde vir ons. God woon nou deur Sy Gees in ons. Intimiteit met God beteken nie net dat ons in Hom sal glo nie, maar dat ons sal leer om ons hele lewe te rig volgens Sy teenwoordigheid.

Wanneer God sê beweeg, beweeg ons. As Hy sê ons moet laag lê en wag, dan maak ons so. Ons leef nie meer op ons eie nie. Ons leef met ‘n vaste sekerheid dat God altyd by ons is.

Gebed
Vader, dankie dat U nog steeds by U kinders betrokke is. Dankie dat ek vandag seker kan wees dat U nooit die pad sal vat nie, al val ek gedurig. U is goed …

Vrae
Leef ek bewus van God se teenwoordigheid, of gaan ek maar net aan op my eie?
Wag ek vir God se leiding voordat ek beweeg, of hardloop ek vooruit?
Waar ervaar ek tans dat God vir my sê “bly” of “beweeg”?

Doen dit nou
Raak vandag doelbewus stil en vra vir God: “Moet ek beweeg of moet ek wag?” en skryf neer wat jy ervaar.
Kies een besluit wat voor jou lê en moenie dit neem voordat jy dit eers in gebed by God neergesit het nie.
Herinner jouself deur die dag: “God is hier,” en leef elke situasie asof Hy reg langs jou staan.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek