God se Woord in vandag se woorde

God verras in groot en klein goeters


Ons geniet dit om tyd in die Kruger Nasionale Park deur te bring. Dis altyd so lekker om in die oggende vroeg op te staan en gereed te maak om diere te gaan soek. Ek is altyd die een wat die ander wakker maak en toe ons kinders nog klein was, het ek hulle sommerso slapend in die bakkie gelaai.  

Soms staan ons ’n halfuur voor die hekke oopmaak, reg voor in die ry om eerste die diere wat op die warm teerpad geslaap het, wakker te maak. 

Daar heers ’n groot opgewondenheid in ons almal en ons is letterlik en figuurlik op ’n leeujag uit. Almal wil graag ’n leeu of ’n luiperd sien en op ’n manier glip al die ander diere en hul maniere ongesiens by ons verby.  

Wanneer ’n mens so gefokus is op een doel, is die kans goed dat jy al die ander wonderlike diere en gebeurtenisse miskyk. Ek wonder hoeveel van die pragtige diere het ons nie gemis nie, net omdat ons so gefokus was op die baas van die diereryk.  

Die dag toe ons dit besef, het ons ’n punt daarvan gemaak om by elke dier te stop en eers mooi te kyk hoe die dier lyk. Ons het ’n wonderlike toep afgelaai wat vir ons alles vertel van elke wilde dier. Wat hy eet, hoe hy jag, hoe sy uiterlike kenmerke lyk en nog meer.  

Ewe skielik was elke dier, hoe klein of hoe groot ook al, ’n wonderlike ervaring. Ons kon nie wag vir die volgende olifant wat 40 000 spiere in sy slurp het en wat nie net ’n boom daarmee kan omstoot nie, maar ook ’n grondboontjie uit sy dop kan haal sonder om dit te beskadig. 

Of die rooibokram wat op sy eie ’n klompie ooie het en toe ’n paar van hulle afdwaal, kom hy met ’n groot geraas aan om hulle te gaan haal. En daar rats hulle weer hul weg terug na sy groepie. As ek ’n bok was, sou ek dit seker ook gedoen het.  

Ja, elke oggend kan ons nie wag dat die hekke oopgaan sodat ons verras kan word deur al die wonderlike dinge wat om die draai op ons wag nie.  

God verras ons nie net in die dierewêreld met sulke wonderlike dinge nie, maar ook in ons gewone lewe as kind van God kom Hy en verras ons om elke hoek en draai.  

Ek vermoed ons mis die meeste van die dinge, omdat ons wag vir die “groot” dinge om te gebeur. Om elke dag wakker te word, is eintlik ’n groot verrassing. Daar kan soveel dinge verkeerdloop deur die nag. 

Wanneer ons God se verrassings om elke hoek en draai verwag, is die “klein” verrassing om wakker te word elke keer vir ons spesiaal. Dan sal God se teenwoordigheid al hoe meer sigbaar word in ons lewe.  

My broers en susters vir wie ek so lief is, luister, ons is nou reeds kinders van God. Watter wonderlike dinge in die toekoms nog met ons gaan gebeur, daaroor is ons nog onseker.  

Lewe voluit met ’n verwagting dat God wonderlike dinge elke dag in ons pad sal laat gebeur. Kyk uit daarvoor. Soek die grotes en die kleintjies. Dan sal jy God se betrokkenheid en voorsienigheid al hoe meer in jou lewe ontdek.  

Teks
1 Johannes 3:1-3 

Om oor na te dink
Ervaar jy God se teenwoordigheid elke dag in jou lewe?
Word jy nog verras as God sommerso opdaag?
Waar mis jy Sy opdaag in jou lewe? 

Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek nie meer altyd sien waar U opdaag nie. Daarom dat ek nie meer so verras word nie. Help my, Vader, om U om elke hoek en draai te verwag en verras te word. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek