God se Woord in vandag se woorde

Goeie getroue dienaar


Soos ek hier stil word met die teks in die Woord van God, is my vrou by haar vader en moeder. Sy het deur die nag daar gesit, want die dokter het gesê sy vermoed hy gaan dit nie deur die nag maak nie. 

Die hele familie was die aand rondom sy bed en ek het die voorreg om ’n laaste gebed te doen.  

Dit was ’n moeilike pad tot hier. Dit was moeilik om te sien hoe die lewe stukkie vir stukkie uit hom tap. Hy weeg seker nie eers meer veertig kilogram nie. Met elke hoes en gerommel sien ’n mens hoe die lewe uit hom tap. 

Sy lewe is op. 

Sy lewe se vervaldatum het opgedaag en vir seker is dit nie maklik om dit te hoor nie. Ja, ons weet waarheen ons gaan. Jesus het vir ons die hemel oopgesterf, maar die pad soontoe is nie maklik nie. 

Een ding sal ek altyd onthou van my skoonpa. Hy het gesê almal wil hemel toe gaan, maar niemand wil doodgaan nie. Ek vermoed dis die onbekende pad wat ons hier van die aarde na die hemel moet betree, wat dit vir ons so verskriklik moeilik maak.  

Elkeen van ons sal ook eendag hier opdaag. In ’n fetus posisie het ons die wêreld ingekom en net so sal ons weer uitgaan. Petrus weet ook hiervan: 14Ongelukkig sal dit nie meer te lank wees nie, want my dood is voor die deur. Ons Here Jesus Christus het dit duidelik vir my gewys. 15Daarom skryf ek al hierdie dinge neer sodat julle selfs ná my dood kan onthou hoe julle moet leef. 

Petrus het geweet sy lewe se stap hier op aarde raak min. Daarom het hy moeite gemaak met sy roeping. Die opdrag wat hy van die Vader ontvang het om ander op hul lewenspad te help, pen hy vas, sodat dit nog ’n groter impak in die wêreld kan maak. 

My skoonpa se vervaldatum is minder as ’n jaar terug aan hom bekend gemaak. Hy het egter nie soos Petrus die pen opgeneem en ‘n boek begin skryf om sy roeping te laat voortleef nie.  

Nee, hy het elke dag van sy lewe sy roeping uitgeleef. Een prentjie wat ek nooit van hom sal vergeet nie, is hoe hy elke Sondag kort op my ma se hakke geloop het met die kussinkie waarop sy gesit het.  

As ek een woord moet gebruik om hom op te som, is dit dienaar. Hy het sy vrou gedien, sy kinders en die mense saam met wie hy gewerk het. Almal kon sy geloof sien in sy dienende hande. Toe sy vervaldatum opdaag, het sy roeping orals saad geskied. 

Elkeen van ons het ook ’n vervaldatum. Een of ander tyd sal ons ook hierdie aardse lewe verruil vir die lewe in die hemel. Die vraag is net of ons teen daardie tyd ons roeping hier op die aarde uitgeleef het.  

Sal die Vader ook eendag van ons kan sê: “Goeie en getroue dienaar. Jy het ander gehelp om by my uit te kom. Jy het mense gered. Jy het mense gedien. Kom gerus in, hier by die ewige rus.” 

Teks
2 Petrus 1:12-15  

Om oor na te dink
Wat maak die wete van ‘n vervaldatum aan jou?
Dien jy ander?
Wat sal jy eendag nalaat? 

Gebed
Here, hoe kan ’n mens anders as om die lewe te leef sodat ander U kan sien? Ons kry dit nie aldag reg nie. Help my om so te leef dat ander U kan sien. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek