God se Woord in vandag se woorde

Hey! Waar’s jy?


Genesis 3:9 Die Here God moes toe na die mens roep en sê: “Waar is jy?” 

Ek sit op die bank en is eintlik ’n brombeer. Ek is nie lus vir die wêreld nie. Ek is moeg en vies. Die viesste vir myself. My vrou kom karring nog ook aan my en vra of ek dié en daai gedoen het. Ek sê met ’n straight face nee, al weet ek die antwoord moes eintlik ja gewees het.  

Ek kon nie glo dat ek die waarheid so maklik wegsteek nie. Dis mos nie ek nie, en ek wonder hoekom ek dit toelaat. Nou probeer ek die skuld pak op moegheid of teleurgestelling, maar ek besef die skuld lê vierkantig op my eie skouers. Soms kies ons net eenvoudig die maklikste roete en dan back fire dit. 

Daardie nag lê ek wakker. My gedagtes woel. Jy moet jou sondes bely! Ek wil nie, want ek weet daar gaan baie stof opgeskop word. Ek probeer redeneer: Bly stil. Behou die vrede. Maar dis juis die onvrede wat my aanjaag om oop kaarte te speel.  

Dis God in my, Sy Heilige Gees, wat my nie los nie. Dis Hy wat kort-kort opdaag en vra: “Hi, waar is jy?” En dis nie om te straf nie. Dis nie om ons pak te gee omdat ons weer ‘n verkeerde afdraai geneem het nie. 

Nee, dis omdat God omgee. Omdat Hy lief is vir ons. Omdat Hy net so seerkry soos ons wanneer ons swaar trek oor die dinge wat ons aanvang. Daarom wil Hy ons help om weer op die regte pad te kom om weer in vrede vas te loop.  

Wanneer God opdaag, juis in die tye wanneer ons wil wegkruip en met niemand wil praat nie, is dit nie om te oordeel nie, maar om te wys dat Hy omgee. Dis wat ’n God doen wat in ’n intieme verhouding met ons leef.  

God se liefde vir ons is só groot, Sy verlange na ‘n verhouding met ons só sterk, dat Hy Sy Seun gestuur het om aan ’n houtkruis te hang, sodat ons nie die prys vir ons eie dade hoef te betaal nie. 

Soms wil ons weghol van ons dade en selfs van onsself. Maar dis God wat steeds agter ons aanloop en sag vra: “Waar is jy?” Hy gee werklik om en Hy het ons innig lief. Hy wil vrede bring en Hy sal ons help om weer op die regte pad te kom. 

Gebed
Dankie, Vader, dat U voltyds aanhou en uithou met ons en altyd weer vir ons kom soek. Dankie vir die vergifnis wat U elke keer aanbied. Help ons om só te leef dat ons altyd in U teenwoordigheid wil wees … 

Vrae
Is daar iets wat jy aangevang het waarvoor jy skaam is?
Hoe kan jy dit voor God kom lê?
Hoe moet jy nou anders begin leef? 

Doen dit nou
Sit vir vyf minute stil en vra eerlik vir jouself: “Waar staan ek regtig met God?” Skryf neer wat in jou hart begin roer.
Bely eerlik een ding wat jy dalk al te lank probeer wegsteek. Sê dit hardop vir God of skryf dit neer as ’n gebed.
Maak vrede met iemand met wie jy weet daar nog iets tussen julle lê. Stuur vandag nog ’n boodskap of bel daardie persoon.  

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek