Hulle sê Jesus kom mos môre
Wat sal jy doen as jy weet Jesus kom môreoggend aarde toe om al Sy kinders te kom haal en ’n einde te maak aan die wêreld? Sal jy opgewonde wees of sal jy dalk ’n kol op jou maag kry?
Vir seker sal ons alles in orde kry. Wel, eintlik sal ons seker nie te veel tyd bestee aan aardse goeters nie, want dit sal saam met die aarde na Jesus se koms nie meer bestaan nie.
Dalk sal ons so ’n voëlvlug oor ons lewe neem en kyk waar ons die pot misgesit het en dalk ’n goeie sessie van skuldbelydenis inwerk. Gelukkig ken ons mos die teologie en weet dat ons hemel toe gaan — nie op ons eie werke nie, maar op dit wat Jesus vir ons gedoen het. Dankie tog daarvoor.
Miskien sal daar ’n paar name in ons koppe kom van geliefdes wat ons weet wie se saak nie reg is met die Here nie. Daarom sal ons aan hulle deure gaan hamer en pleit dat hulle hul saak sal regkry.
Ons sal vir seker opgewonde wees om te weet dat die swaar van die wêreld uiteindelik sy ry gaan kry. Ons sal opgewonde wees oor die ewige rus en dat lyding vir ewig verby is.
En ja, ek vermoed ons sal so bietjie bang wees. Bang wees om die bekende te verruil vir die onbekende. Ons weet ons gaan hemel toe, maar ons weet nie presies hoe dit gaan werk van hier tot daar nie. Dit is menslik om so effe bang te wees vir die onbekende reis.
Die Bybel sê vir ons egter dat ons nie presies weet wat die tyd en plek gaan wees van Jesus se koms nie. Soos ons nie gewaarsku word teen iemand wat vanaand gaan kom inbreek nie, so kan ons ook nie gereed staan vir Jesus se koms nie.
Wanneer mense dan een of ander datum kom uitbasuin dat dit nou die finale koms van Jesus gaan wees, is ek eers so effe bang, maar dan as die datum gekom en gegaan het, is ek sommer boos. Die ouens maak ’n grap van ons Here se koms en hulle vat baie ander saam op die dwaalspoor.
As ek dan lees dat Johannes die volgende skryf, wonder ek in watter kategorie val hy? Lei hy dan ook sy lesers op die verkeerde pad?
18My liewe kinders, die tyd na die einde toe begin nou min word. Julle het mos gehoor dat die antichris aan die kom is. Dit is die een wat dink hy kan Christus se plek inneem. Kyk ’n bietjie rond, daar is sommer baie sulke opponente van Christus wat skielik oral opduik. Daarom weet ons dat die tyd na die einde toe vinnig nader kom.
Johannes praat hier nie van ’n datum of ’n jaar wat nou net om die draai lê nie. As ’n mens na die oorspronklike Grieks gaan kyk, sien ’n mens dat hy verwys na die laaste tydperk wat aangebreek het. Hierdie tydperk kan jare, selfs eeue neem.
Ons hoef nie nou in vrees te verval nie, maar vir seker moet ons sorg dat ons gereed is as Jesus dalk nou hier gaan opdaag. Gaan praat ook met die geliefdes wie se storie met Jesus nog nie reg is nie. Want netnou kom Jesus en dan is daardie geliefde gereed om saam te gaan.
Teks
1 Johannes 2:18-23
Om oor na te dink
Is jy gereed vir Jesus se koms?
Wat moet jy nog doen om gereed te wees?
Vir wie moet jy help om gereed te kom?
Gebed
Jesus, ek smag om U te sien. Laat ek tog gereed wees en sorg dat al my geliefdes weet van U koms, een of ander tyd. Amen.
