God se Woord in vandag se woorde

Jesus – die Ingenieur wat regmaak


As ek eendag weer moet terugkom aarde toe en ek moet ’n ander beroep kies, sal ek heel waarskynlik in ’n ingenieurs rigting studeer. Ek is mal oor prosesse. Bottelnekke en probleme trek my aan soos ’n magneet.  

Ek sal vir ure staan en verskillende oplossings oorweeg, totdat ek uiteindelik by een uitgekom het wat ek dink sal werk. Ek sal dan alles stop en die nuwe metodiek probeer. Die meeste van die kere lei dit tot groot sukses.  

Vir almal is dit nie maklik om te sien waar die fout se begin lê nie. Vir almal is dit nie maklik om ’n oplossing te kry nie, maar as die proses omgeswaai is en dit werk soveel beter, is almal wenners. 

Daar was groot fout in die wêreld. Die bottelnek wat gekeer het dat alles klopdisselboom loop, het sommer vroeg daar in die tuin van Eden met die eerste oppassers ontstaan. 

Adam en Eva het besluit hulle kan die dinge beter laat werk en ’n ander metodiek probeer instel, na aanbeveling van ’n onbevoegde, korrupte, wannabee ingenieur. Sy bedoelings nie so skoon nie.  

Die gevolge is meer as net ’n bottelnek in die proses. Alles het eintlik tot ’n stilstand geruk. Alles is opgefoeter en die oppassers is net daar en dan ge-fire. Dieselfde het met hul nasate gebeur. 

Uiteraard het dit die Ontwerper heel dwars in die krop gesteek. Hy wou hê dat die proses weer moet vlot. Hy het presies geweet waar die probleem lê. Hy het presies geweet hoe om dit reg te maak.  

Ons weet wat die oplossing was. Ons weet dat slegs een persoon geskik is, die tools gehad het, gekwalifiseerd was om reg te maak waar ander ’n stok in die wiel gesteek het. 

5Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. 

Jesus was gekwalifiseerd. Hy het die papiere gehad. Hy was die enigste een wat by magte was om iets aan hierdie wêreld se probleem te kon doen. Sy papiere het gesê: Gekwalifiseerde Seun van God, heeltemal sonder sonde.  

Die prys wat betaal moes word, is die hoogste wat daar nog ooit op so ’n projek uitgegee is. Wel, dis eintlik meer as al die geld in die wêreld tesame. Dit het die lewe gekos van die Seun van die Heerser van die wêreld.  

Ek en jy lewe nou met die gevolge van die groot regstellingsprojek. Ja, sonde is nog steeds deel van die lewe. Jesus se opdrag was nie om net ’n staffie te swaai en woeps! daar het al die sonde uit die wêreld verdwyn nie. 

Die gevolge van die mens se dom keuses is ongelukkig nog steeds hier, maar die reddingsplan het die proses se appelkar kom omgooi. In plaas daarvan dat ons die pak, wel die dood, moet vat vir die gevolge van ons dade, het die Een wat sonder sonde is, die enigste een wat gekwalifiseer is om dit te doen, kom regmaak. 

Jesus, die ingenieur, het die proses wat tot die dood loop kom verander, heeltemal nuut kom maak, sodat die resultaat weer groot sukses kan bring, weer lewe bring.  

Teks
1 Johannes 3:4-10 

Om oor na te dink
Wat beteken Jesus se sterwe aan die kruis vir jou persoonlik?
Hoe stap jy anders deur die lewe?
Watter impak het dit op die mense rondom jou? 

Gebed
Jesus, dankie. Dankie dat U bereid was om in my plek die dood in te gaan, sodat ek nie daardie helse pad hoef te stap nie. Ek is stil van verwondering. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek