Kolskoot met talente
Op die plaas het ek ’n paar keer dieselfde fout gemaak. Wanneer ’n mens ’n goeie werker kry, wil jy hom help om meer geld te verdien. Jy soek vir hom ’n werk met meer verantwoordelikheid en stel hom aan as voorman.
Hy is dankbaar, maar gou sien jy sy kop sak. Hy sukkel en die wiele kom af. Later sukkel jy self met hom en kan nie verstaan dat hy nie die kans aangryp nie. Een oggend daag hy nie op nie en moet jy hoor dat hy sy goed gevat het en gewaai het.
Dan wonder jy wat gebeur het. Hy was dan so ’n goeie werker en nou het hy gedros. Ek dink ek het eers verstaan toe dieselfde met my gebeur het. Jy sien, ek is in ’n stadium ’n pos aangebied wat ek aanvaar het, maar wat nie heeltemal binne my gawes gepas het nie.
Ek het ongelooflik swaar gekry. Ek het spanning gehad dat dit by my oë uit gedrup het. Ek moes Sondagaande braai, net om die swart honde uit die huis te hou. En op die ou end het ek gewaai.
Wanneer ’n mens aangestel word in ’n posisie buite jou gawes, gebeur sulke goed. ’n Mens pas net nie lekker in nie en die dinge wat jy moet doen, gee nie energie nie, inteendeel, dit trek jou pap.
God het aan ons elkeen ’n stel talente gegee. Vir sommige een of twee. Vir ander sommer ’n hopie. En dis nie sommer net dieselfde talente wat alle mense het nie. Elkeen van hulle is spesiaal vir jou uitgekies om ’n spesiale verskil in die wêreld te gaan maak.
Dis God se Woord wat so sê: 10God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee. Wanneer jy jou lewe leef waar jou talente ten volle gebruik word en in die wêreld saam met die tekkie die teer slaan, is almal wenners.
Daarom is dit so belangrik dat jy seker sal maak waar jou talente is en baie energie daarin sit om dit te laat ontpop. So baie jongmense maak die fout om te studeer of ’n rigting in te gaan wat gemotiveer word met die hoeveelheid nulle aan die einde, net om ’n paar jaar af in die pad te besef dat hulle nie verder wil sleep aan so ’n sak spanning nie.
Ons talente vorm die basis van ons doen en late. Wanneer ons doen en late dan juis vanuit hierdie basis aangevuur word, skop God se plan in werking. Dan slaan ons uitsonderlike talente die wêreld en maak dit ’n groot verskil.
Ek wonder hoe lyk die wêreld waarin jy woon, werk en speel? Gaan die lewe maar sy gang of is daar gedurig ’n stukkie hoop, hulp, ’n vars briesie, ’n son wat opkom in die donker, ’n vars geur wat oopbars?
Dis uitsonderlike talente, wat ons elkeen mos van deel het, wat so maak. Daarom moet ons erns maak en seker maak dat ons basis wat ons dryf uit ons talente bestaan. Wanneer dit gebeur, is alles in harmonie en kry ons energie om nog te doen.
Maar daar is tog ’n waarskuwing so op die einde. Moenie jou skouer te veel klop nie. 10… Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat eintlik so goed vir julle is. Wanneer ons talente dan op die ou end wel ’n verskil maak, kom die eer God toe, want dis mos net Hy wat met krom stokke soos ons ’n kolskoot slaan!
Teks
1 Petrus 4:7-11
Om oor na te dink
Wat is jou talente?
Is dit die basis van jou manier van doen?
Maak jy werklik ’n verskil waar jy woon, werk en speel?
Gebed
Vader, dankie vir al my talente. Help dat ek ’n verskil maak orals waar ek gaan. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.
