Leef die waarheid – al kos dit wat
Hoor hierdie pragtige getuienis van iemand wat die waarheid gelewe het:
Richard Wurmbrand was ’n evangeliese predikant in Roemenië tydens die Sowjet-besetting ná die Tweede Wêreldoorlog. Toe die kommuniste aan bewind gekom het, het hulle ’n sogenaamde “Kongres van Kultusse” byeengeroep, waar godsdienstige leiers veronderstel was om trou aan die nuwe kommunistiese regime te sweer en te verklaar dat kommunisme en Christenskap versoenbaar is.
Baie godsdienstige leiers het, uit vrees, ingestem. Maar toe dit Wurmbrand se beurt was om te praat, het hy gekies om vir die waarheid te staan eerder as vir selfbehoud. In plaas daarvan om die verwagte lofrede aan die regime te lewer, het hy verklaar dat Christene God bo enige aardse gesag moet eer, en dat ware Christenskap nooit met ateïstiese kommunisme kan ooreenstem nie.
Hierdie daad van moed het gelei tot sy arrestasie in 1948. Wurmbrand het altesaam 14 jaar in kommunistiese tronke deurgebring, insluitend drie jaar in totale afsondering. Terwyl hy in die tronk was, is hy wreed gemartel, maar hy het nooit sy geloof prysgegee of die waarheid opgegee nie.
Terwyl hy in die tronk was, het Wurmbrand ’n metode ontwikkel om aan medegevangenes te preek deur boodskappe in Morsekode teen die mure te tik. Hy het later gesê:
“Dit was in die tronk dat ons die hoop op verlossing vir die kommuniste gevind het. Dit was daar dat ons ’n gevoel van verantwoordelikheid teenoor hulle ontwikkel het. Dit was daar waar ons geleer het om die mense wat ons gemartel het, te vergewe en lief te hê.”
Na sy vrylating, deur ’n losprys wat deur Noorse Christene betaal is, het Wurmbrand en sy familie na die Weste ontsnap. In 1967 het hy Voice of the Martyrs gestig, ’n organisasie wat toegewy is aan die bystand van vervolgde Christene wêreldwyd.
Richard het geen kompromie aangegaan nie. Die waarheid was vir hom belangriker as sy eie lewe. Hy het integriteit bo veiligheid, waarheid bo gerief en liefde bo haat gekies. Om in die waarheid te wandel was nie net woorde in sy kop nie, maar het oorgespoel in sy dade.
Hoe trots moes Richard Wurmbrand se leermeesters nie gewees het op hul leerling nie? Hy het opgestaan vir dit wat hulle hom geleer het. Toe hy moes kies tussen sy lewe en die waarheid, toe kies hy die pad wat hom geleer is. Die waarheidspad.
Johannes loop ’n groepie mense raak aan wie hy sy briewe skryf. Hy is só opgewonde, en hy skryf aan hul leiers: 4Ek het van julle gemeentelede raakgeloop. Die goddelike waarheid straal sommer uit die manier waarop hulle hulle gedra. Ek kan julle nie sê hoe bly ek was nie! Dié soort lewenstyl is mos wat ons hemelse Vader van ons wil hê.
Mag ander ook oor ons gedrag praat. Mag hulle ook aangespoor word om, soos ons, net vir die waarheid te kies en dit uit te leef, al kos dit wat.
Teks
2 Johannes 1:4-6
Om oor na te dink
Waar sukkel jy om die waarheid te leef?
Hoe kan jy dit met wortel en tak uitroei?
Vir wie moet jy die waarheid wys?
Gebed
Vader, ek weet dat daar nog dinge is waar die waarheid nie orals in my lewe deurkom nie. Help my om dit uit te roei, sodat my hele lewe in U waarheid is. Amen.
