Leer uit foute en doen dan net reg
Ek ry saam met my broer van ’n ander moeder, Namibië toe. Hy geniet dit om my saam te vat, want as ’n afgetrede bestuurder van InterKaap (in my studentejare) is ek nie bang vir ry nie.
As die wiele rol, slaap hy so in die regop posisie, maar as hy wakker is, praat ons ou stories. Ons het nie eers die radio aan nie. Dit steur net, want hy is half doof. Soms praat ek so hard dat ek bang is die voorruit kry ’n kraak in, maar as ek my gesig heel wil hou, moet ek nie die skertsstorie aan hom vertel nie.
Hoe langer die pad, hoe dieper raak ons en natuurlik hoe eerliker. Hier is geen vrou om notas te neem vir latere gebruik nie. My vriend sê hoeka dat hy nie daarvan hou as vrouens as skeidsregters vir rugbywedstryde gebruik word nie, want hulle blaas sommer vir foute wat jy in die vorige game gemaak het.
Ons bieg maklik teenoor mekaar, want een of ander tyd moet die waarheid uit. Dit lê en broei mos en dan pla dit al hoe meer, totdat dit aan die lig gekom het, dan help ons mekaar om ’n brug te bou.
So maak my broer sy hart oop. Soos gewoonlik kan hy nie die garage duskant Worcester misry nie. Alhoewel sy suiker deesdae woes sy dieet moet bepaal, is die weerstand teen ’n garage pie nul.
Terwyl hy daar in die ry staan, sien hy die sekuriteitswag by die kostoonbank rys en hoeder bestel. Die rys is minder as die tien rand, maar toe die stuk hoender bykom, verander die bedrag na meer as vyftig rand.
Dis te dik vir die sekuriteitswag se sak en hy vra dat hulle die hoender terugvat. Hy is net met die bakkie rys daar uit. My broer kyk net en betaal sy pie en waai.
En terwyl ons so ry, bieg hy. Wat sal dit nou van hom gekos het om vir die wag te sê hy moet die hoender weer op die lys sit? Hy sal betaal. Niks nie. Daardie vyftig randjies sou geen impak op sy beursie gemaak het nie.
Ons almal maak sulke foute en dan wonder ons of ons dit gaan maak. Ek sit juis net ’n dag voor ons ry by ’n ander vriend wat erg bekommerd is oor wat die uitslag gaan wees as hy daar bo by Petrus gaan aankom.
Gelukkig ken ons die teologie. Dis Jesus wat die hekke vir ons oopgestoot het en nie ons handewerk wat die groen lig aanskakel nie. Tog moet ons meer sensitief wees vir die leiding van die Heilige Gees en reg doen.
Ons moet ander mense help. Ons moenie sit of staan en slaap nie. Wanneer daar ’n kans is om reg te doen, moet ons dit doen, want: 17… die persoon wat doen wat God vra se pad loop saam met God die ewigheid in.
Ons hoef nie ons polse af te kou as ons êrens langs die pad doof was vir die leiding van die Gees nie. Ons hoef nie onsself te kasty as ons iets gedoen het wat ons weet nie binne die wil van God is nie. Ons sal nie die bus na die hemel mis nie.
Ons moet egter hierdie kanse wat ons gemis het, gebruik as motivering om juis volgende keer orals plekkies te soek waar God in mense se lewens ’n verskil wil gaan maak en dit dan net te doen.
Teks
1 Johannes 2:15-17
Om oor na te dink
Waar het jy al plekkies om ’n verskil te maak, gemis?
Wat kan jy anders doen om dit nie weer te mis nie?
Waar word jy geroep om ’n verskil te maak?
Gebed
Vader, ek voel so sleg vir die kanse wat ek gemis het om goed te doen. Help my om volgende keer elke kans aan te gryp om goed te doen en ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Amen.
