God se Woord in vandag se woorde

Lewe die lewe voluit


Die lewe is maar net ’n asemteug ver. Ons plug kan enige tyd getrek word en dan is dit verby. Maar ons leef nie so nie. Ons leef asof die lewe nooit gaan einde kry nie.

Ek staan ‘n tyd gelede by ’n familielid se bed waar sy stadig asemhaal. Haar asemhaling is onrustig agter die suurstofmasker. En toe ewe skielik, sonder aankondiging, blaas sy haar laaste asem uit.

Twee dae tevore het sy nog lekker gesels. Sy moes net oor die siekte kom, sodat sy weer huis toe kan gaan. Nie sy nie, nie haar kinders, nie die geliefdes om haar bed het gedink of verwag dat sy na haar ewige huis sou vertrek nie.

Nee, ek dink nie ons moet bang wees en heeltyd wonder of ons lewe dan nou vandag gaan ophou nie. Ons moet voluit lewe, asof dit vandag ons laaste dag is. Ons moet alles doen, sodat as ons dan ons kop vir die laaste keer neerlê, ons sal weet ons het die wenstreep op volle vaart oorgesteek.

Maar oppas dat jy nie só verstrengel raak in die wêreld, dat die wêreld en sy manewales jou insuig en jy dalk die plot verloor nie. Ons moet besef dat die wêreld met sy dinge ons oë van die wenpaal lok.

11My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie.

Die ervaring langs die familielid se bed het ’n stop bordjie langs my lewenspad kom sit, sodat ek vir ’n wyle eers op my lewensreis moet aftrek om seker maak dat ek nog op die regte pad is.

Ek moet besef dat die reis nie vir altyd hier op aarde gaan wees nie. Ons is maar net tydelik op die aarde geplaas. Ons is eintlik vreemdelinge en nie veel meer as bywoners nie, wat dalk môre of oormôre gaan aanbeweeg.

Daarom moet ek sorg dat ek gereed is, dat ek reg is wanneer ek aanbeweeg. Dit is nie so maklik nie, want die wêreld probeer ons pootjie. So maklik vertel die wêreld vir ons ’n storie van lekkerder en beter dinge. So vinnig gee ons toe aan begeertes en sonder dat ons dit besef, word ons weggesleep van wat God wil hê ons moet doen.

Dit is goed om eers ’n tydjie af te trek op ons lewenspad en net weer te kyk na waarheen ons op pad is. Dis hier waar ons sien waar die wêreld en sy begeertes skelm blyplek binne ons kom maak het.

Dis hier waar ons ons sondes moet bely en vir hulp vra. Dis hier waar ons weer besef dat ons nie by magte is om alleen die wêreld aan te vat nie. Dis hier waar ons die Heilige Gees moet vra om te help.

Leef voluit en probeer jou uiterste bes om nie in die strikke van die wêreld te val nie.

Teks
1 Petrus 2:9-12

Om oor na te dink
Waar is daar plekkies waar jy in die wêreld swik?
Hoe kan jy jou vreemdelingskap weer aantrek?
Vra jy die Heilige Gees vir hulp?

Gebed
Vader, ek weet ek is net tydelik hier in die wêreld. Tog is daar plekke waar ek aan die wêreld vassuig wat my lewe deurmekaarkrap. Heilige Gees, help my om nie in die strikke van die vyand te trap nie. Ek wil graag leef volgens my hemelse Vader se wil. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek