God se Woord in vandag se woorde

Lewe in konteks


Ons is vyf goeie pelle wat mekaar al ken van laerskool af. Ons hou steeds gereeld kontak, en natuurlik het ons ’n WhatsApp-groep waar ons mekaar gereeld bombardeer met lawwe grappies en snaakse aanmerkings. Een van ons het Australië toe geëmigreer, maar elke keer as hy weer in die land is, reël ons ’n lekker kuier. Dan’s dit speeltyd van begin tot einde. Toe ons Aussie pel laas in die land was, het ons koers gekies Stilbaai toe. Rus was maar min, maar pret was daar genoeg! 

Dis die tipe vriendskap waar niemand voorgee of iets probeer bewys nie. Al het een dalk ’n bietjie meer geld as die res, dit maak geen verskil nie. Ons is net onsself. En wanneer ons saam is, voel dit soos pousetyd op laerskool – lag, speel en sommer weer kind wees, net soos vroeër. 

As ons vrouens hoor wat ons aanvang as ons saamkuier, is hulle gewoonlik dankbaar hulle het tuisgebly. Hulle skud net kop en sê: “Julle is nie reg nie.” En om eerlik te wees – hulle is reg. 

Dis nie dat ons stout is nie, dis net … wel, baie van wat ons doen, pas beter in ’n laerskool se pouse as by grootmense se kuier.  

Ek besef net weer hoe anders mens optree in verskillende geselskappe. Jy sê en doen sekere dinge in een groep, en los dit liewer uit in ’n ander. In die kerk is jy stil en eerbiedig. En as jy by die koning van Engeland sou kuier, sou jy seker maar ’n respekvolle kopknik gee en half opkyk na die ou met die kroon.  

’n Mens kan dit seker opsom deur te sê dat die omstandighede waarin jy jou bevind, jou gedrag bepaal. Behalwe dit, lyk dit vir my asof baie van ons se gedrag nie eintlik verander as ons in die teenwoordigheid van die Almagtige Koning is nie. 

Vandag slaan die waarheid my weer soos ’n plank teen die voorkop. 24Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee. 

Besef jy regtig dat die almagtige God binne-in jou woon? Dat Hy Sy Heilige Gees vir jou gegee het om jou te help om die regte pad te loop en die regte dinge te doen? 

Sjoe, wanneer daai waarheid my tref, voel ek maar klein. Want ek weet – ek leef nie altyd asof Ek in die teenwoordigheid van ’n Koning is nie. 

As ek by my vrou optree soos ek by my pelle doen, is dit nie altyd vir haar lekker nie. En as ek leef asof God nie naby is nie, kan dit seker vir Hom ook ongemaklik wees om in my te wees. 

Maar God wil nie hê ons moet voorgee of onnatuurlik wees nie. Hy wil hê ons moet eg wees. Ek en jy moet net seker maak dat ons egtheid iets is wat vir Hom reg is. Die wete dat God in ons woon, moet ons manier van leef verander. Want m

Teks
1 Johannes 3:19-24 

Om oor na te dink
Wys my vriendskappe dat God in my leef?
Gehoorsaam ek God se gebooie, ook saam met my pelle?
Help ek my vriende om nader aan God te leef? 

Gebed
Vader, dankie dat U in my woon. Dit troos my om te weet ek is nooit alleen nie. Tog voel ek soms skuldig wanneer ek dinge doen wat nie reg is nie. Help my asseblief om ’n lewe te leef wat U eer en wys dat ek aan U behoort. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek