Liefde gooi ’n lap oor ander se gate
Ek kry ’n e-pos van Jansie (skuilnaam):
My dogtertjie was op 11-jarige ouderdom seksueel gemolesteer deur haar stiefpa in die huis terwyl ek geslaap het. Ek het ook ‘n 7-jarige seuntjie uit die huwelik.
Die pad wat ons stap vir die laaste 6 maande vandat sy my daarvan vertel het, is die moeilikste ding wat ek/ons al deur is. Ek het hom dadelik uit die huis gesit. Ons het die saak aangemeld by die polisie. Hy is vier dae later gearresteer en is twee weke daarna vrygelaat op borgtog.
Sy gaan gereeld vir terapie by die Teddybear kliniek. Die saak word die heeltyd uitgestel. Ek het ‘n ineenstorting einde Januarie gehad, is opgeneem in ‘n “wellness- clinic” en kry tans behandeling vir depressie. Die skeisaak neem ook net so lank want hy staan die egskeiding teë.
Hierdie man is nie ‘n vreemdeling nie. Hy was my man en is die pa van my seun. Hy het my dogtertjie vandat ons getroud is, aanvaar en grootgemaak as sy eie!
Hoe vergewe jy in so ’n geval?
Wanneer iets so diep sny, wanneer ander se lewens vir altyd verwoes is, is vergifnis nie op die kaarte nie. Hoe kan dit op die kaarte wees? Wanneer die Woord van God dan die volgende sê, is dit nog moeiliker: 8Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie. Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie.
Die oorspronklike Griekse woord sê eintlik dat jy ’n doek oor ander se sondes moet gooi. Liefde haal ander se sondes uit die prentjie. Dit kom nie in die spel nie. Liefde maak dit moontlik dat mense in harmonie kan lewe, al maak albei droog.
Miskien help Fransie (skuilnaam) se storie ons nader aan hierdie uitdagende opdrag:
Ek en my man ry om ons seun by die rehabilitasiesentrum te gaan haal. Ons het hom laat opneem verlede jaar na ‘n baie lang pad met die dwelmmonster.
Die emosionele, fisiese en verbale trauma waardeur ons is, het ons as Pa en Ma genoodsaak om daai drastiese stap te neem.
Ek kan met dankbaarheid en oorgawe in my moederhart met jou deel dat na ons gesprek met ons seun, ek met sekerheid kan getuig dat ons hom alles vergewe het!
Wie is ons dan om hom nie te vergewe nie as God ons elke keer vergewe?
Ek vermoed dis liefde wat dit doen. Liefde haal ander se flaws uit die prentjie. Liefde laat jou seker besef dat jy ook gate het en ander se vergifnis ook nodig het. Liefde is die gom wat ons aanmekaar bind en ’n hupstoot gee in die rigting van vergifnis.
Wanneer dit egter so diep sny, is dit nie so maklik nie en daarom moet ons maar weer sê: “So help my God.”
Teks
1 Petrus 4:7-11
Om oor na te dink
Is vergifnis op jou kaarte?
Het jy hulp nodig met vergifnis?
Wie moet jy vergewe?
Gebed
Vader, U het my vergewe en sien nie meer my sondes raak nie. Vir my is dit nie so maklik nie. Help my om hierdie berg uit te worstel. Ek pleit in Jesus se Naam. Amen.
