Mannetjie wys ons hoe
Ek kry eintlik trane in my oë toe ek die storie van Arina (skuilnaam) lees:
Ons het Saterdag saam met ons kinders die dag bestee. Die jaar was so deurmekaar en op sy kop en ons moes net weer saam alles regskud.
My kleinseun, Alex, van twee en ‘n half, was ook saam. Hy het gebaretaal bemeester op ‘n vlak wat ons verstom, maar dit is tipies van seuntjies wat eers later begin praat. Ons het hierdie onwilligheid om woorde te gebruik, in Abba Vader se hande geplaas.
Met dit gesê, kom hy Saterdag en soen my voete.
Gauteng was nat die naweek en ons het gekamp. So my voete was redelik vuil, omdat ek ‘n kaalvoetouma is.
My eerste reaksie was: “Nee Seuntjie, ouma se voete is vuil.”
My dogter sê toe vir my hoe Jesus ons net keer op keer kom wys hoe liefde lyk. Alex lief sy ouma so baie dat hy haar voete soen. Jesus lief ons so baie dat Hy vir ons ons voete was, vir ons aan die kruis gesterf het, ons verlos het.
Nie pratend, net met gebaretaal, wys hier klein mannetjie Jesus se liefde. Sonder om eers ondersoek in te stel of al die omstandighede geskik is vir ’n soen. Sommer net so deur die vuilheid van die voete kom die soen.
Onvoorwaardelik. Eintlik kan die mannetjie hom nie keer nie, want sy liefde vir sy Kaalvoetouma is net te groot. Dis die liefde wat hom dryf.
Amper het ouma gemaak soos baie ander maak en weggeskram van liefde wat ander so onvoorwaardelik vir hulle wil gee. Nee, jammer ek is nie goed genoeg nie of ek het die of daai al gedoen, jy kan nie vir my liefde gee nie.
Ongelukkig doen baie mense dit met Jesus se liefde. Hulle kan Hom net nie toelaat in hulle lewe nie. Hulle dink hulle is te vuil, te sondig. Maar dis dan juis waarvoor Jesus gesterf het aan die kruis!
Dit moet ons egter nie keer om wel Jesus se liefde te gaan uitleef nie. Dis eintlik ’n opdrag. Elkeen van ons wat kinders van Jesus is, moet die wêreld gaan wys hoe ware liefde lyk.
Die Bybel sê so: 16Wil julle weet wat liefde is? Ons het ’n goeie voorbeeld daarvan: Jesus Christus het Homself gegee om tot ons voordeel doodgemaak te word. Ons behoort presies dieselfde te doen. Ons moet bereid wees om ons lewe tot die voordeel van ons medegelowiges te gee.
Laat ons hierdie een ernstig opneem. Laat ons plekkies gaan soek waar ons liefde kan gaan doen. Laat ons plekkies gaan soek waar ons voete kan gaan soen. Laat ons plekkies soek waar ons ons lewe kan neerlê, sodat ander ook kan besef dat hulle vir seker goed genoeg is vir die liefde van Jesus.
Teks
1 Johannes 3:11-18
Om oor na te dink
Waar moet jy liefde gaan leef?
Wie se voete moet jy gaan soen?
Wie het jou vandag nodig?
Gebed
Jesus, dankie vir die wys van ware liefde. Help my om dit in my wêreld te gaan lewe. Amen.
