God se Woord in vandag se woorde

Mooi so!


Eksodus 34:10 Die Here antwoord toe: “Kyk, Ek sal ’n nuwe ooreenkoms met julle maak. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur. Sulke dinge het nog nêrens op die aarde gebeur nie. Geen volk het so iets gesien nie.

Ons dink gewoonlik dat die Israeliete ʼn moeilike volk was en dis maklik om hulle te kritiseer, maar eintlik was hulle net mense wat gedink het hulle doen reg. Om ʼn goue kalf te bou, is wat hulle by die Egiptenare gesien en geleer het. Ek dink nie hulle wou doelbewus teen God se wil gaan nie.

Maar dit het nie goed afgegaan by Moses nie. Toe hy sien wat die volk aangevang het, het hy onmiddellik woedend geraak en die kliptafels, soos Die Boodskap vertaling sê, neergesmyt. Dit het natuurlik in stukkies gebreek.

God het dit self nie goed gevat nie. Hy wou nie meer saam met hulle trek nie. Hy wou Hom nie vereenselwig met ʼn halsstarrige volk wat hul eie ding doen nie. Hy het selfs gesê Hy sal hulle uitwis.

Maar Moses het gaan pleit dat God Hom asseblief nie moet onttrek nie, want wat sal dan van die volk word? Gelukkig het God Hom bedink en nadat Hy die oortreders uitgesorteer het met ʼn plaag, het Hy tog die genadekraan oopgemaak en saam met hulle verder getrek.

Ons maak ook foute. Ons druk teen die grense en soms val ons pens en pootjies daaroor. Sommige meer as ander. Ek val in die eerste kategorie. Maar gelukkig is God genadig. Gelukkig los Hy ons nie alleen wanneer ons foute maak nie.

God sal ook nie vir jou los oor die verkeerde dinge wat jy aanvang nie. Dankie tog daarvoor. Maar omdat daar nie ʼn swaard oor ons kop hang nie, beteken dit nie dat ons nou kan doen wat ons wil nie.

Nee, ons moet nou juis uit dankbaarheid vir wat God vir ons gedoen het, en wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, alle kragte inspan om só voor God te leef dat dit vir Hom lekker is om na ons te kyk.

Mag ons so lewe dat God gedurig sê: Mooi so, getroue vriend. Mooi so!

Gebed
Vader, dankie vir die hoop genade. Jesus, dankie vir die sterf in my plek. Heilige Gees, help my om stap vir stap te leef soos U wil …

Vrae
Leef ek uit dankbaarheid vir God se genade, of vat ek dit as vanselfsprekend?
Is daar iets in my lewe wat ek weet God nie behaag nie, maar wat ek steeds doen?
Wat kan ek vandag doen wat vir God “Mooi so!” laat sê?

Doen dit nou
Dink vandag aan een area in jou lewe waar jy weet jy moet regstel.
Praat eerlik met God daaroor en vra Hom om jou te help om anders te leef.
Doen vandag een praktiese ding reg wat jy weet God sal bly maak, al voel dit klein.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek