God se Woord in vandag se woorde

’n Boemelaar se les oor dankbaarheid


In 2010 het ek begin om elke oggend oor een vers in die Bybel te skryf. Vyftien jaar later het ek nou klaargemaak met 1–3 Johannes. Die meeste van hierdie stukke is op Kruispad uitgestuur. Ses boeke is reeds hieruit gepubliseer en nog twee is op pad. Op 30 November slaan ons ’n nuwe rigting in – meer daaroor later. Tot dan gaan ons egter nog ’n paar keer terug na Kolossense, want kan ons ooit genoeg uit hierdie boek leer?

Andy (skuilnaam) vertel sy storie:

Ek is 58. My lewe het ’n skewe draai geloop. Alles my eie skuld. Om weer onder te begin, is nie maklik nie. ’n Ou moet maar baie hare op jou kop hê om dit reg te kry. Maar met God in jou kan jy dit doen.

My swak besluite het my twee en ’n half jaar op straat laat beland. Letterlik. Ek het saam met die “boemies” gelewe. Dit wat ek daar gesien het, was hartverskeurend.
Gelukkig het ek nie in “daardie groef” verval van drink en vergeet nie. Ons gewone mense raak kwaad as hulle bedel net om ’n “kannetjie” te koop, maar ’n dag raak lank as daar geen vooruitsig vir jou is nie.

Net toe ek in die straat moes begin bly, het dit een nag gereën soos met die vloed. Ek het nie komberse gehad nie. Ek was deurnat. Niemand wou help nie, nie die kerk nie en selfs nie eers die mense in my selgroep nie. Hulle het nie eers aangebied om my te help nie.

Op die oomblik het die kerk my ’n kamer gegee om in te bly. Ek bly al ses maande in die plek en is tans besig om my lewe met God reg te maak. Dis nie maklik nie.

Een ding van hierdie journey is dat ek geleer het om dankbaar te wees vir my bed, komberse, ’n kussing en ’n dak oor my kop. Ons gewone mense beskou dit as ’n “moet” en deel van die lewenspakket. Dankbaarheid is egter ’n woord wat ons nie reg verstaan nie.

En hoe reg is Andy nie. “Dankbaarheid is ’n woord wat ’n mens nie reg verstaan nie.” Ons lewe ’n lewe waar ons baie dinge as vanselfsprekend aanvaar. Dit móét net so wees.

Andy het alles verloor en op die straat gesit sonder ’n kombers of ’n reënjas. Hy verstaan wat dit beteken om niks hê nie. Daarom verstaan hy ook van dankbaarheid vir die kleinste dingetjie.

Wanneer ’n mens ’n vinger verstuit, kry jy mos elke keer seer as jy aan iets wil raak of iets wil optel. Dan eers besef jy wat jou hande alles doen. Dan is jy dankbaar vir die gebruik van jou hande.
Moet ons eers ’n besering opdoen, of soos Andy alles verloor, voordat ons dankbaar kan wees?

Ons het soveel om voor dankbaar te wees: vir die genade van God wat ons uitgekies het om Sy kinders te wees; om te gaan slaap met ’n kombers en ’n kussing en ’n dak oor ons kop; ’n maag wat vol is; om in die oggend wakker te word met ’n hart wat klop; om asem te haal en die voëls te hoor tjirp; vir familie en vriende.

En so kan ons elkeen ons lysie langer maak.

Dankbaarheid moet die vertrekpunt van ons hele lewe wees. Mense wat deur dankbaarheid gedryf word, leef anders. Hulle is positief en wil ook vir ander die lewe gun. Hulle soek geleenthede om van hulle dankbaarheid uit te deel en ’n verskil te maak.

En natuurlik, 15 … moenie vergeet om altyd vir God dankie te sê vir al hierdie dinge nie.

Teks
Kolossense 3:12-17

Om oor na te dink
Maak ’n lys waarvoor jy dankbaar kan wees.
Leef jy dankbaarheid uit?

Gebed
Vader, dankie klink nou te klein en te kort. Maar dankie vir dit wat U alles vir my gee. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek