God se Woord in vandag se woorde

’n Groepie vir Jesus


As ek ’n gelukkie langs die pad raakloop, vertel ek dit gou aan al my vriende. As ek hoor van Karooskaap wat teen ’n goeie prys te koop is, maak ek maatjies bymekaar om daarin te deel.  

Jy sien, ek kan myself nie keer nie. Ek wil hê dat almal in die gelukkie moet deel. Ja, soms het ek ook al die pot misgesit. So hoor ek van ’n boer wat sy store wil leegmaak, want daar moet plek kom vir die nuwe oes.  

Ek moes seker geweet het dit is te dik vir ’n daalder en die prys veels te min vir kwaliteitprodukte. Die gelukkie het my en my vriende duur te staan gekom en ons het alles in die drein afgegooi.  

Tog breek die een foutjie nie my spoed nie en wanneer ek weer hoor van ’n goeie aanbod, stig ek sommer ’n WhatsApp-groep en vra wie wil deel hê aan die wonderlike winskoop.  

As ek dan vir ’n slaggie stil word en dink aan die wonderlike aanbod wat God vir ons deur Jesus gebring het, wonder ek hoekom ek nie ’n klompie WhatsApp-groepe vir vriende het wat hulle hiervan vertel nie?  

Die gedagtes slaan my hard. 

Jesus het ’n paar vriende gehad wat Hy kon leer. Die jongste van sy groepie was Johannes. Jesus het ’n spesiale plekkie in Sy hart vir hom gehad en wanneer Jesus deur moeilike tye gegaan het, was Johannes een van die drie wat Hy saam met Hom geneem het.  

Oor Jesus kon Johannes nie stilbly nie en ek vermoed as daar in daardie tye selfone was, sou hy almal wat wou en selfs dié wat nie wou nie, deel gemaak het van ’n WhatsApp groepie. 

Elke dag sou Hy post oor die wonderwerke wat Jesus doen. Hy sou almal inlig oor die Lig wat opgedaag het vir die duistere wêreld. Hy sou almal aangemoedig het om Jesus as hul Verlosser aan te neem. 

Daarom skryf hy: 1Alles het by Hom begin. Voor alles was Hy al daar. Wat Jesus kom vertel het, het ons met ons eie ore by Hom gehoor. Ons het Hom met ons eie oë gesien. Ons het mooi dopgehou wat Hy gedoen het. Ons kon aan Hom vat en het ook inderdaad met ons hande aan Hom geraak. Wanneer ons dus oor Jesus praat, is ons seker waarvan ons praat. 

Johannes was daar en het die T-hemp. Gelukkig hou hy dit nie vir homself nie, maar trek alle stoppe uit om dit aan die res van die wêreld te vertel. Soveel so dat ons na 2 000 jaar steeds daarvan kan lees. 

Ons het vandag soveel meer maniere om Jesus se stories die wêreld in te dra. Binne ’n paar minute kan ons ’n groepie saamstel en met die druk van ’n paar letters op ’n foon die lewensreddende woorde aan ’n klomp verkondig. Gedurig! 

Ek wonder of die Here nie ook vir jou roep om tussen jou vriende Sy Woord te versprei nie? Moet jy nie ook met die mense rondom jou die lewensreddende nuus deel nie? 

Teks
1 Johannes 1:1-4 

Om oor na te dink
Het Jesus jou lewe omgedop?
Weet jou vriende dit?
Hoe kan jy dit met hulle deel? 

Gebed
Jesus, dankie dat U my lewe omgedop het. Ek weet ek moet die nuus ook met my vriende deel. Gee my die krag en moed om dit te doen. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek