‘n Laaste briefie
Hier is die laaste boodskap van die jaar wat uit die hart kom. Jammer dis so ’n lang een! Die goeie nuus net te veel om in ’n kort briefie oor te dra.
Sjoe, dis alweer die einde van die jaar! Ons is regtig dankbaar dat die Here vir ons gekies het om deel te wees van die span wat voltyds Sy Woord in vandag se woorde aan soveel mense kan uitdra. #bevoorreg
Ek en my skoonsus, Ronellé het die jaar saam ’n boek uitgegee. Dit was ’n besonderse, nee, lewensveranderende reis toe ons die uitmergelende pad wat sy en haar gesin met AM Leukemie gestap het, begin neerpen het.
Haar storie is ’n inspirasie vir kankervegters, traumavegters, wel, eintlik vir almal wat aanmoediging nodig het om positief te bly, ongeag die omstandighede wat dreig om die oorhand te kry.
So met die skryf saam het ek vir haar gesê dat ek baie van die vrae nie verstaan nie en ons vra toe haar hematoloog om ons vrae te beantwoord. Hy het dit op ’n besonder eenvoudige manier beantwoord sodat Jan Alleman dit ook kan verstaan. Ek eindig elke hoofstuk af met geestelike bemoediging, want dis in die tyd van trauma waar vegters na God gryp.
Ons het aanvanklik nie die ondersteuningstelsel van kankervegters in die oog gehad nie. Ons het eers later besef die boek sal vir elkeen wat saam veg, ’n in diepte kykie gee in hul geliefdes se stryd. Dit dra vir seker by tot ’n beter begrip en hantering van die pasiënt.
Ons is so opgewonde oor die media dekking wat dit ontvang het. Artikels oor die boek het in talle hoofstroom tydskrifte en koerante verskyn. Ons het ook gesprekke met verskeie radiostasies gehad. Cum Books, Bargain Books en PNA, asook kleiner boekwinkels in sommige winkelsentrums help met die verspreiding.
Dit was op ’n boeketoer deur die land wat ek by ’n paar winkels gehoor het daar bestaan ’n behoefte aan ’n dagstukkieboek vir mense in trauma. Ek het sommer op die toer begin met my volgende boek: Asem – vir wanneer selfs die silwer randjie weg is. Ek vorder goed met die skrywery en dit behoort April volgende jaar op die rakke te wees.
Met die res van die bediening het dit regtig goed gegaan. Ons weeklikse Bybelstudie en audios het op goeie grond geval en die terugvoer van die impak daarvan merkwaardig. Elke Sondag se erediens op YouTube, Facebook en ander sosiale netwerke het vir baie mense gehelp om God se Woord te hoor (hier is die skakel na ons weeklikse aanlyn eredienste: youtube.com/@kruispadTV). Al die audios en preke word op meer as 10 radiostasie uitgesaai. Aan God kom al die eer toe.
Dis ’n voorreg dat ons ook mense in hul probleme kan bystaan en ons gebedspanne is aktief betrokke by hierdie mense in nood.
Aan die begin van die 2024 val die jongmens bediening, Roadtrip247, wat ons oorgegee het, onaangekondig weer in ons skoot. Die Here het hande voorsien om die bediening nie te laat ondergaan nie. Ja, ons het gewonder waar ons die fondse vir die ekstra drie salarisse sou kry, maar as ons terugkyk oor die jaar, was God getrou en het elke maand die nodige voorsien.
VCSV het hand opgesteek en neem in Januarie 2025 die stokkie oor. Ons glo, bid en vertrou dat hulle dit tot ’n volgende hoogte sal neem en dat dit net nog ’n groter impak in die jongmense se lewe sal maak.
Met ons gesin gaan dit goed. Alet-Mari en haar man, Matthys is na 3 jaar in Gauteng weer terug in die Kaap. Hy werk vir ’n maatskappy wat onder andere die oliebore se voete diens en Alet-Mari het by Shoprite/Checkers begin waar sy deel is van ’n span wat nuwe winkels ontwerp en beplan. Mia is ’n laktasie konsultant by Paarl se Provinsiale Hospitaal en geniet haar werk so baie. Sy maak werklik ’n verskil daar!
Benno was orals die jaar. Nadat hy sy ouderdomsgroep gewen het in die Suid-Afrikaanse Ironman, is hy genooi om aan die wêreldbyeenkoms in Kona, Hawaii, deel te neem. Dit het goed gegaan daar, behalwe dat hy deur ’n spinnekop gebyt is en met ’n groot gat in die been hier in SA geland het. Die volgende dag het hy saam met ’n vriend die Wine2Whales gery! Net om ’n week later weer met motorfietse die Roof of Africa aan te pak. En so tussendeur het hy darem sy graad ook gekry! Dis darem lekker om jonk te wees.
Ons wil regtig dankie sê dat ons hierdie jaar tydig en ontydig op jou skerms kon opdaag. Dankie dat jy ons toelaat om God se Woord aan jou te bring. Ons bid dat elke stukkie saad wat ons plant deur die Heilige Gees in jou lewe sal groei.
Dankie aan elke liewe donateur wat dit vir ons moontlik maak om God se roeping in ons lewe uit te leef, sonder dat ons oor enige iets bekommerd hoef te wees. (Net so tussen hakkies: Ons bediening The Crossroad Company NPO is ’n nie-winsgewende organisasie. Daar is ’n direksie wat seker maak dat alle fondse reg bestuur word. Elke jaar word ons state opgestel onder leiding van ASL ouditeure. Enige vrae in die verband kan gerig word aan die voorsitter, Gideon Hefer by: gdhefer@gmail.com)
Dankie aan elke medewerker. Die klompie intersessors en die gebedsreaksie span wat op elke gebedsversoek reageer, (Indien jy gebed nodig het, stuur asb. na gebed@kruispad.com) Dankie vir die IT manne wat seker maak dat al ons platforms up and running bly. Dankie aan al die vertalers en teksredigeerders, wat dit doen as hulle tiende vir die Here.
Marika, Renata se suster, werk voltyds agter die gordyne om die groot hoop administrasie stukkie vir stukkie weg te werk. Van 05:00 soggens begin sy op die fone (let wel daar is twee!) boodskappe uitstuur, soms tot laat in die nag. Ons is baie dankbaar dat die Here haar by ons span gevoeg het.
Hier is paar stukkies terugvoer, en ons sê weer: Aan God al die eer. Dis net Hy wat met krom stokke reguit houe kan slaan:
- “Ek dink nie julle besef altyd wat jy vir baie beteken met julle boodskappe op Kruispad 247 nie, want almal reageer nie daarop nie agv baie redes. Al wat ek vir jou wil sê, is dat julle raakvat op die alledaagse dinge wat ‘n invloed het op Christenwees.” – Abraham –
- “Ek is ‘n GP en ons lees tans die “Hou aan Loop” elke oggend voor ons begin werk. Dis vir ons ‘n goeie gespreksbeginpunt (voor werk) en ons het al baie waarde daaruit gehad.” – Thelma –
- “Hierdie brokkies woord van julle is vir my lewensbrood. As mens eers ver teen die lewensopraande uit is, is hierdie geselsies soms al wat jy nodig het.” – Elsa –
- “Baie dankie Renata. Jou stemboodskappies help my baie met my daaglikse ingesteldheid met die Here Jesus! Met groot dankbaarheid.” – Elize –
- “Ek het so pas die diens van 3 Maart vir die derde keer geluister. Hierdie is loshande die diens wat uitstaan bo enige ander diens wat ek tot dusvêr in my 61-jarige bestaan geluister het. Ek vermoed dat ek die diens nog etlike kere gaan luister as dit die Here se wil is en ek bly lewe. Dit beteken soveel vir my. Ek wil net hê jy en die Kruispad span moet weet dat julle ‘n baie belangrike en kosbare deel van my lewe is.” – Isabel –
- “Dankie Kruispad span. The world needs people like you. Dankie vir die boodskappe, en dat julle my so baie leer. Dankie vir die huidige reeks oor die Heilige Gees. Awesome, verstaanbaar in vandag se woorde.” – Vanessa –
Ek moet bieg dat ons batterye aan die pap kant is en ons sien baie daarna uit om teen 13 Desember die pikke neer te lê.
Mag ons Vader jou in hierdie feestyd regtig seën. Mag jy weer by die krip ’n draai maak en besef watter groot Verlosser daar vir ons gebore is en mag jy Sy vrede in jou hart ervaar.
Shalom tot volgende jaar.
Gerjo Ben en Renata
Ns. Indien jy dalk iemand wil bederf met ’n geskenk wat lewens verander, kan jy gerus by ons boekwinkel ’n draai maak: www.kruispadboeke.com
