God se Woord in vandag se woorde

’n Siel gepynig vir ander


Kom ek vertel ’n storie.  

Lank lank gelede het daar ’n ou man in ’n dorpie gebly. Die dorpie se mense het, volgens hulle, ’n baie lekker lewe gehad. Die man was egter baie bekommerd oor die hele dorp se manier van lewe.  

Jy sien, die hele dorp se inwoners het nie ’n saak gehad met morele waardes nie. Daar was nie seksuele grense nie. Sleutelpartytjies waar almal se sleutels in ’n bak gegooi word en jy met die een huis toe gaan wie se sleutel jy gekies het, was aan die orde van die dag.  

Hoe rowwer, hoe beter, was hul motto 

Die ou man het hierdie verval raakgesien. Daagliks het hy by die leiers van die dorp gaan sit en met hulle gepraat oor hierdie verkeerde dade van die dorpenaars. Maar hulle het net hul neuse opgetrek en weggedraai en niks gesê nie. Want hoe kan hulle iets sê as hulle ook deel is van hierdie orgie? 

Mismoedig het die ou man dan by die dorp se kantore uitgestap. Sy hart het gepyn vir elkeen van die mense wat op pad was na hul ewige dood. Hierdie mense gaan die hemel se afdraai nooit sien nie. 

Eendag het God eenvoudig net genoeg gehad van al hierdie mense wat so in die sonde rondploeter. Hy roep die ou man nader en vertel hom dat Hy sien hoe die dorpenaars mors en het besluit om die dorp plat te vee.  

Die ou man het wal gegooi vir ’n vale. Sy hart het gekreun vir die verlore mense en wou so graag nog ’n kans kry om te kyk of hy nie nog iets kon doen om hierdie mense se oë oop te maak vir hul verkeerde dade nie.  

Later het God gesê dat as hy maar tien mense kan kry wat nie deel is van hierdie wettelose mense nie, sal Hy die dorp spaar. Maar in hierdie grote dorp kon die ou man nie eers tien mense kry wat God eerste stel in hul lewe nie. 

God het die ou man en sy vrou en kinders gewaarsku net voor Hy die dorp gelyk met die aarde gemaak het. Met ’n swaar hart het die man sy besittings gevat en gevlug. 

Dis natuurlik Sodom en Gomorra en Abraham se storie.  

Dit was regtig swaar vir Abraham om te sien wat hier aan die gebeur is. Sy hart was in stukke. Sy siel het gehuil. Hy het regtig omgegee vir hierdie mense wat so op die verkeerde pad was. Hy sou enige iets doen, selfs met God bargain, net om hulle lewe te spaar. Sy broerskind, Lot, was immers ook ‘n inwoner van die dorp! 

8Hierdie goeie man moes dag na dag vaskyk in die verskriklike sondes wat daar hoogty gevier het. Hy wat in die regte verhouding met God geleef het, moes sulke gruwelike dinge aanhoor dat dit hom byna van sy kopaf moes laat raak het. 

Lot het die sondige mense op sy hart gedra en regtig vir hulle omgegee. Ek wonder of ons nog so ’n hart het? Huil jou hart ook vir die verlorenes van jou dorp? Word jou siel gepynig elke keer as jy in die mense vasloop wat die pot missit en op die vloer van die lewe mors?  

Dalk moet ons almal vir God vra om ons harte weer sensitief te maak vir die verlorenes sodat ons juis in hulle lewe Sy lig sal laat opkom.  

Teks
2 Petrus 2:4-8  

Om oor na te dink
Waarin kyk jy elke dag vas?
Wat maak dit aan jou hart?
Of is jy dalk deel daarvan? 

Gebed
Vader, soms draai ek my oë weg. Soms is my hart hard. Maak my hart sag vir ander en laat ek iets doen. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek