God se Woord in vandag se woorde

’n Ware patriot


Vir 26 jaar is daar geveg vir die onafhanklikheid van Namibië. Suid-Wes, soos dit toe genoem is, was onder Suid-Afrikaanse beheer en die regerende party wou net nie bes gee dat die land deur sy eie mense beheer word nie. 

Jong manne was verplig om direk na skool, of as hulle klaar studeer het, vir een tot twee jaar deel te gaan neem aan die oorlog. Ek was een van hulle wat vir twee jaar my lewe opgeoffer het en ja, sonder dat ek dit daardie tyd besef het, bereid was om vir my land te sterf. 

Dit noem hulle ’n patriot. Iemand wat sy vaderland so liefhet, dat hy bereid is om vir sy land sy lewe te gee. Nie net vir twee jaar nie, maar vir ewig, want in die proses van liefde toon en met gewere en kanonne rondkruip, kan hy in die spervuur sterf. 

Ek wonder of ek ’n ware patriot was? Daardie tyd aan die grens het ek seker so gedink en breë bors gesalueer vir die Suid-Afrikaanse vlag. Maar as ek vandag terugkyk, weet ek ek was net daar omdat ek deur die land se wette gedwing was om daar te wees. 

’n Mens moet darem regtig baie lief wees vir jou land om bereid te wees om jou lewe daarvoor te gee. Om jou lewe neer te lê ter wille van iets of iemand anders, moet gedryf word deur ’n hoop liefde. 

God se liefde is groter. Jy sien, Jesus se liefdeshart het so gehuil vir al Sy kinders wat nie by Hom uitkom nie, dat Hy nie anders kon as om ’n plan te maak, ’n liefdesplan te maak om die wêreld te red nie. 

Om dit reg te kry, moes Jesus Sy lewe daarvoor opoffer. En Jesus was bereid en het dit gedoen. Hy het nie Sy lewe neergelê vir ’n land of twee nie. Nee, Hy het Sy lewe gegee, laat offer aan ’n kruis, vir die hele wêreld. Vir elke liewe mens op aarde. 

Jesus was ’n ware patriot. Sy liefde vir die mense was net te groot om terug te deins van die grootste oorlog nog. Gelukkig het Jesus as die wenner uit die stryd getree en die vyand oorwin. 

Dankie tog daarvoor, want nou kan ek en jy en almal wat Jesus as ons Verlosser aangeneem het, in vryheid leef. Ons lewe nou nie meer onder die swaar beheer van die bose nie. 

Omdat ons onder Jesus se beheer lewe, word daar van ons verwag om te doen soos ons Heerser. Ons kan nie nou lewe soos ons wil nie. Daar is eintlik net een wet in die Koninkryk: lewe soos Jesus. Maak soos Hy gemaak het.  

En dit is? Jy moet soos Hy ook bereid wees om jou lewe neer te lê. 16Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê (1983-vertaling). 

Dalk word ons nie fisies opgeroep na ’n veldslag waar ons doodgeskiet kan word nie, maar net daar waar ons lewe eers die eie ek met sy hope selfsugtigheid opsy te skuif om ander eerste stel.  

Ons word elke dag in groot goeters, maar ook in kleintjies opgeroep om soos Jesus ander eerste te stel en onsself heel laaste. Dis nie maklik nie, maar met die krag van die Heilige Gees kan ons. Laat ons dit gaan doen en orals eers sterf vir ander, want dis wat ware liefde doen. ’n Ware Christus-patriot. 

Teks
1 Johannes 3:11-18 

Om oor na te dink
Dryf jou liefde vir Jesus om ’n ware patriot te wees?
Is jy bereid om ander eerste te stel?
Waar sukkel jy om vir ander te sterf? 

Gebed
Jesus, dankie dat ek kan sien en leer wat ware liefde is. Ek wil ook soos U doen en vir ander my lewe neerlê, maar ek sukkel. Gee my krag en wysheid om dit in elke liewe oomblik reg te kry. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek