God se Woord in vandag se woorde

Nog ’n kans


Ek was nie so ’n goeie student terwyl ek op universiteit was nie. Ek het alles gedoen, behalwe swot. Ek het restaurante bestuur, vir InterCape bus gery en het selfs my eie besproeiingsbesigheid gehad, Sproeikor.  

Die netto effek hiervan was dat ek my drie jaar BA-graad in vyf jaar ingeprop het. Met die tweede graad het dit darem beter gegaan. Ek het drie slim vriende gehad wat my saamgesleep het en ek het darem my graad behaal.  

Maar die universiteit se ringkoppe was nie dik van die lag vir my nie. Aan die einde van my derde jaar, dis nou histories en nie akademies nie, was hulle keelvol en hul geduld het opgeraak.  

Ek ontvang ’n brief wat my inlig dat hulle dink ek sal nie my graad suksesvol kan aflê nie en daarom moet ek maar my tasse pak. Sjoe, ek skrik my boeglam, want ek het ’n roeping van God om voltyds vir Hom te werk.  

Ek en ’n oom by die Studentevoorligting skryf ’n pragtige brief. Ek spot altyd en sê ons was later albei in trane. Gelukkig tref dit ’n snaar by die ringkoppe en hul gee my nog een kans. Maar net een, hoor!  

Ek spring daardie volgende jaar weg met omtrent nog al my tweede en derde jaar se vakke in my tassie. Ek kom wonder bo wonder alles deur, behalwe ’n klein vakkie. Die dosent wou my nie predikaat gee om eksamen te gaan skryf nie. 

Ek maak ‘n afspraak met hom en vra mooi vir nog ’n kans. Maar sy geduld is op en hy sê hy kan dit nie oor sy hart kry om my te laat skryf nie, want ek was nie een keer die jaar in sy klas nie. Point taken 

Gelukkig het die ringkoppe die klein voetfoutjie oorgesien en toegelaat dat ek my graad kry om toelating vir my volgende graad te kry. So kon ek met ’n langerige pad my opleiding agter die blad kry om by God se roeping vir my lewe uit te kom. 

Die ringkoppe kon dit oor hul hart kry om een, nee, twee kanse vir my te gee. Die dosent se geduld was sommer van die begin af op en om ’n kans by hom te kry, was so uit soos ‘n kers.  

As God soos die dosent was, was ek vir seker in tamatiestraat. Selfs al was God soos die ringkoppe van die universiteit, was ek ook lankal van die pad af. Maar dankie tog dat God nie so is nie.  

15Die Here is baie geduldig met ons. Gelukkig! Hy gee ons nog ’n kans om ons lewens behoorlik reg te kry. Kom ons gryp dit met albei hande aan. 

God stel Jesus se koms na die aarde uit, omdat Hy die mense wat nog nie tot inkeer gekom het nie, nog ‘n kans wil gee. God is ’n God van vele kanse. Sy sin raak nie sommer op vir die mens nie. Nog minder pak Sy geduld sy tas en vat die pad.  

Laat ons daarom in dankbaarheid binne God se wil lewe en seker maak dat ons nie onnodig kanse vat nie. Laat ons só lewe dat Jesus se koms vervroeg word.  

Teks
2 Petrus 3:14-16 

Om oor na te dink
Hoeveel kanse het jy al van God ontvang?
Leef jy jou dankbaarheid uit?
Vir wie moet jy na God se kant toe wys? 

Gebed
Vader, dankie dat ek soveel kanse van U ontvang. Help my om so te lewe dat my lewe ander na U toe sal lei. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek