God se Woord in vandag se woorde

Offer uit dankbaarheid


Genesis 8:20-21 Noag het toe ’n altaar vir die Here gebou en hy het van die rein diere en voëls as brandoffer vir die Here geslag. 21Toe die Here die heerlike geur ruik, het Hy gesê: “Ek sal nooit weer die aarde vervloek oor die mens nie, want die mens is sleg van kleins af. Ek sal nooit weer so iets verskrikliks doen nie. Nooit weer sal Ek mens en dier so totaal uitwis nie.

Sjoe, watter skommelmaai tyd moes dit nie vir Noag en sy gesin, en natuurlik vir die diere gewees het nie. Eers kry Noag ‘n opdrag van God om ’n skip te bou, en dit boonop op droë grond met geen water in sig nie. Die mense het vir hom gelag en gedink sy kop raas.

Ek wonder watter petalje moes dit nie afgegee het om al die diere bymekaar te kry nie? Maar tog was Noag en sy gesin getrou en by hook or by crook is almal veilig in die ark. Noag het die deur toegemaak en God het dit gesluit.

Ek wonder hoe traumaties dit moes wees om familie, vriende en vreemdes te hoor skree terwyl die waters al hoe hoër styg terwyl die reën aanhou val.

Maar na byna 40 dae het God die krane van die hemel toegemaak en Noag het weer ’n voël uitgestuur. Toe die duif nie terugkom nie, het Noag geweet die water is besig om te sak. Op berg Ararat strand die skip en uiteindelik kon die deur van die ark weer oopgestoot word.

Die eerste ding wat Noag gedoen het toe hulle die grond tref, was om ’n altaar te bou en iets te offer vir God. Om dankie te sê. Om eer te bring. En omdat God Sy beloftes onthou het. God het belowe dat Hy nooit weer sal doen wat gebeur het nie.

Intimiteit met God sluit ook ons eie offers in. Veral offers wat aangevuur word deur dankbaarheid.

Ons kan vandag dankoffers bring wat God se hart aanraak. ’n Tydsoffer wys dat ons Hom eerste stel. ’n Lofoffer bring eer, selfs in moeilike tye. Met ’n deeloffer help ons ander met wat ons het, en ’n gehoorsaamheidsoffer is wanneer ons God se stem volg, al verstaan ons nie alles nie. ’n Getuienisoffer is wanneer jy jou storie deel om ander te bemoedig en só vir God te verheerlik. Só bou ons ook vandag altare van dankbaarheid. Watter offer gaan jy vandag bou?

Gebed
Vader, soms slaan die branders woes oor my kop. Maar elke keer kom red U my. Ek wil uit dankbaarheid ook vir U ’n offer bring. Vandag belowe ek om ’n offer aan U te bring …

Vrae
Watter dankoffer bou jy vandag vir God?
Hoe wys jy dankbaarheid ná jou redding?
Watter gehoorsaamheid vra God nou van jou?

Doen dit nou
Bou jou eie “altaar” vandag. Doen iets klein maar opreg om vir God dankie te sê vir Sy sorg en getrouheid.
Kies een offer van dankbaarheid, of dit tyd, lof, hulp of gehoorsaamheid is, en bring dit met ’n blye hart.
Deel jou storie van dankbaarheid met iemand anders en wys hoe God jou deur die storms gedra het.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek