Offers wat seermaak
Willie vertel hoe die Here in sy lewe woel:
Gisteraand lê my vrou en kreun van tandpyn. Ons kon nie by die tandarts inkom nie, want die taxis het die hoofpad blokkeer.
Ek het niks om vir God te gee, behalwe liefde nie. In nederigheid prys ek die Here en erken hoe goed en magtig Hy is. Ek vra dat Jesus my gebed voor die Vader gaan bepleit en reg oordra, sodat God, die grootste Geneesheer, my vrou verligting sal gee van haar tandpyn.
Tien minute later sê sy die tandpyn is weg.
Ek het dadelik gebid en dankie gesê en God geloof en geprys vir Sy weldaad aan my vrou.
Later het die tand weer seergeword, maar ek het mos die regte teenvoeter gekry. Weer het ek gebid en gepleit en weereens het God sonder aarseling Sy hand uitgereik en haar tand het dadelik beter geword.
Ons is twee staatspensioenarisse wat net liefde het om te offer. Jesus tree vir ons in en God laat ons nie wag nie. Hy tree dadelik op om te help.
My vrou het gekla dat sy nie weet of haar geloof reg is nie. Ek sê vir haar: “Weet jy ons het niks om te offer nie, behalwe geloof en liefde. Kyk net hoe maak God jou gesond. Dit wys net hoe lief God ons het. Hy help ons, Hy is ons enigste God en Hemelse Vader.”
“Ons het niks om te offer nie, net geloof en liefde.”
Met alles wat Hy het, met hande vol liefde en hande vol geloof as offer, kom buig Willie nederig by sy Skepper se voete. Vir sy Skepper is dit genoeg, oorgenoeg. ’n Offer van liefde en geloof.
Wat ’n voorbeeld is dit nie vir ons nie? Net soos Abraham se voorbeeld: 21Neem nou maar vir Abraham, ons geestelike vader. Hy het bo alle twyfel bewys dat sy verhouding met God reg is toe hy sy seun Isak op die altaar wou offer soos God van hom gevra het. Hy het nie net gepraat nie, maar gedoen ook.
Wanneer ’n mens se geloof dik in die aar staan, wanneer ’n mens oorloop van liefde, wanneer daar ’n stewige verhouding tussen jou en jou Skepper is, is een van die reaksies om op te offer.
Offers tap by ’n mens. Offers is baie keer die laaste en al wat jy het. Dit maak baie keer erg seer en sny dalk ’n stuk van jou af. Ja, soms loop die bloed as jy so met die laastes in die hand staan om weg te gee.
Geloof kan slegs oorloop in offerande binne ’n intieme verhouding met God. Daarom moet ons hard werk aan ons verhouding met God. Ons moet sekermaak dat ons ook met hande vol geloof en liefde by God staan, sodat ons ook offerande kan uitdeel, totdat dit erg seermaak.
Teks
Jakobus 2:14-26
Om oor na te dink
Loop jou geloof uit in offerande?
Wat moet jy opoffer?
Waar moet jy gaan offer?
Gebed
Ons Vader, U is so goed vir ons en uit dankbaarheid kan ek nie anders as om ook te doen nie. Ek weet ek moet meer opoffer, maar ek sukkel, veral as dit seermaak. Help my om my geloof so uit te leef dat ek nie bang sal wees om alles te gee nie. In Jesus se Naam. Amen.
