Om die hoe te weet
Genesis 18:17-19 Terwyl hulle so stap, het die Here gedink: Van alle mense het Ek Abraham uitgesoek om my spesiale boodskapper te wees. Hy het nog altyd naby my geleef. Hy sal sy kinders van My vertel en hulle sal ook naby My leef. Hulle sal weet hoe om reg te leef en die regte dinge te doen. Daarom sal Ek nog al my beloftes aan Abraham waar maak.”
Om naby aan God te leef, om te doen wat Sy wil is, om soms stroomop te leef omdat God dit so verwag, is nie altyd maklik nie. Maar die voordele is, soos die Engelsman sê, out of this world! Dit is oor en oor die moeite werd.
Dit laat my dink aan Eric Liddell, die bekende Skotse atleet wie se lewe uitgebeeld is in die fliek Chariots of fire. Hy het in 1924 by die Olimpiese Spele in Parys deelgeneem. Sy beste item was die 100 meter. Toe hy egter hoor dat die wedloop op ’n Sondag gehou sou word, het hy geweier om deel te neem uit eerbied vir die Here se dag.
Die wêreld het hom uitgelag. Hy is uit sy span geskop, die koerante het hom veroordeel, en selfs sy eie land het gevoel hy het sy kans op goud weggegooi. Maar Eric het vasgestaan. God het hom die talent gegee om te hardloop, en hy wou Hom nie onteer deur op Sy heilige dag deel te neem nie.
In plaas van die 100 meter het hy toe die 400 meter gehardloop, waarvoor hy eintlik nie geoefen het nie. Toe wen hy ‘n goue medalje, en dit nogal met ’n wêreldrekord! Hy het later ’n sendeling in China geword waar hy mense gedien en kinders geleer het.
Eric was soos Abraham. Albei was spesiale gesante met ’n spesiale boodskap vir die mense rondom hulle. Hulle het naby aan God geleef en met alles in hulle God se wil vir hul lewens uitgeleef. Hulle het geweet wat die regte ding is om te doen, en dit met oortuiging in elke situasie gedoen.
En ek en jy? Mag ons elke dag só met God wandel dat Sy stem ons beweeg tot voorbidding, gehoorsaamheid en dade wat Sy hart sigbaar maak in ’n wêreld wat Hom so nodig het. Ons sukkel om dit reg te kry, maar dalk moet ons net begin daar in ons binnekamer en doelbewus bou aan die fondament van ons verhouding met God. Ek vermoed die res sal dan sommer vanself kom.
Gebed
Vader, ek begeer ’n intieme verhouding met U waarin ek leer om te hoor wat U van my vra, en dan die moed te hê om daarop te reageer. Ek wil so graag …
Vrae
Waar leef jy vandag naby genoeg om te hoor?
Wat is die regte ding, al kos dit jou iets?
Hoe vorm jy jou huis volgens God se weë?
Doen dit nou
Begin jou dag in stilte en vra vir God se wysheid om vandag te weet wat reg is en vir die moed om dit te doen.
Wees vandag gehoorsaam in iets kleins – volg daardie sagte stem van die Gees, al sien jy nie die hele prentjie nie.
Dink vanaand terug oor jou dag en vra: “Here, waar het ek U stem gehoor, en hoe kan ek môre nog nader aan U leef?
