Om goeie vrugte te dra
Baie keer hoor ek gelowiges sê dat hulle onseker is of die Gees van God in hulle woon. Ek het self al gewonder, want ek hoor dan nie die Gees praat nie. Dan dink ek: dalk het ek iets verkeerd gedoen … dalk het ek die Gees weggejaag.
Gelukkig sê die Woord van die Here: die dag toe ons vir Jesus as ons Verlosser aangeneem het, het Sy Gees in my kom woon. Wat ek doen of nié doen nie, kan Hom nie wegjaag nie. Hy is vir altyd in ons.
13Dít is vir ons die bewys van die intieme verhouding wat tussen God en ons as sy kinders bestaan: God het sy Gees in ons laat werk.
Ons bly in God en God in ons. Elkeen van ons is ’n tempel van die Heilige Gees. Ons verskaf die behuising vir die Heilig Gees. Hy woon onder ons dak en Hy sal nooit Sy goed pak en loop nie.
Waar die Heilige Gees is, daar skyn Hy Sy lig. Hy bring Sy krag saam. Waar Hy woon, is vreugde en vrede. Die netto effek van die Heilige Gees is lewensveranderende vrugte wat die bome in die agterplaas van ons lewens dra:
liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.
Ek en my vrou is nie lekker vir mekaar nie. Dis eintlik ’n soort skietstilstand. Niemand sê iets nie. Ons leef soos vreemdelinge onder dieselfde dak en kyk mekaar net so skuins aan.
Van die Gees se vrugte is daar maar min te sien. Geen liefde nie. Geen vreugde nie. Niemand wat lekker lag nie. Daar’s ’n gevoel van onvrede wat in die huis hang. Die lont is kort, en niemand het lus om goed te wees vir die ander nie. Die res van die vrugte is ook maar redelik aan die vrot kant.
Nou wonder ek: as daar nie vrugte is nie, is daar dan bome? Of in Bybelse taal, as die vrugte van die Gees nie sigbaar is nie, beteken dit dat die Heilige Gees Sy goed gevat en gewaai het?
Onthou, niks wat ek doen of nié doen nie, kan veroorsaak dat die Heilige Gees Sy goed pak en ons verlaat nie. Wat wel gebeur is dat ons keuses, ons vrot keuses, keer dat die Heilige Gees se vrugte vars is.
Ons het vir seker ’n impak in die vrugte wat ons dra. As ons keuses maak wat nie binne die wil van die Heilige Gees is nie, is die kans goed dat daar nie vars vrugte gedra word nie.
Ons keuses kan die Heilige Gees bedroef. Maar dieselfde keuses, die manier hoe ons optree, hoe ons praat, hoe ons leef, kan ook begin vrug dra. Mooi vrugte. Dis in ons hande.
Die Heilige Gees is juis in ons geplaas om ons te help om mooi vrugte te dra. Daarom moet ons leer om stiller te raak, sodat ons Sy stem kan hoor. As ons die eie ek ’n bietjie meer op die agtergrond skuif, sal die Heilige Gees na vore kom en ons help om meer en meer goeie vrugte te dra.
Teks
1 Johannes 4:7-21
Om oor na te dink
Sien ander die vrug van die Heilige Gees in jou lewe?
Watter deel van die vrug van die Gees is in my lewe sigbaar en watter nie?
Hoe kan ek meer ruimte maak vir die Gees om my te lei?
Gebed
Heilige Gees, help my om stil te raak en U stem te hoor. Lei my om goeie vrugte te dra, selfs waar dit moeilik is. Amen.
