Om ’n verskil te maak
Nadia (skuilnaam) vertel:
Ek wil net getuig van ‘n Godsverandering in ons werksplek.
Van 1 April 2017 het ek by ‘n nuwe sub-afdeling begin as toesighouer. Die sub-afdeling gaan deur moeilike tyd weens sensitiewe ondersoeke binne die staatsdiens.
Die eerste dag wat ek ‘n vergadering in die nuwe sub-afdeling byeenroep, vra die oudste vrou of sy iets mag vra. “Kan ons asb. met Skriflesing en gebed begin. Elke week.” Let wel: ons is ‘n afdeling met multi-kulture.
Ek gaan roep toe die ander en die voorstel was met ope arms deur almal ontvang. Dit het so uitgebrei dat ons dit Vrydae ook doen. Ons vra God se leiding vir die naweek. Ons lees Bybel in Afrikaans, vertaal dit in Engels en Suid-Sotho. Ons bid en sing in Engels en Suid-Sotho. Elkeen kan nie wag om skrif te deel nie en ons spreek seënwense oor elkeen, Maandae en Vrydae.
Die spesifieke sub-afdeling was so ongemotiveerd, kon nie werk doen nie en was bang om besluite te neem weens die ondersoek. Maar nadat ons God by ons werk ingenooi het en selfs gedurende die week mekaar bemoedig met God se Woord het die gesindheid heeltemal verander. In plaas van stress, ervaar ons kalmte ten spyte van alles.
Daar is ‘n gevoel van bo-menslike vrede in ons gebou en ons almal ervaar dit. Ons werk in harmonie en waar een vrou altyd skreeuerig was oor selfs kleinerig probleme, het sy rustiger geraak en ons kan verskille uitsorteer in kalmte.
GOD IS GROOT!!
Hoeveel stories moet ons nog vertel om te weet dat daar waar ons vir God innooi, kom vrede. Daar word dit rustig. Daar verdwyn die stres, al is die omstandighede nie so lekker nie.
Ons elkeen moet God meer en meer ’n werklikheid maak en Hom betrek oral waar ons gaan. Ons het nodig dat God vrede bring in ons wêreld.
En soos ek hier tik, lui my selfoon. Dis 06h00. Dis my tjommie en as hy so vroeg bel, weet ek daar is fout.
Hy vra raad en soek wysheid. Hy vertel my dat daar vannag by een van hulle onderwysers se huise ingebreek is. Haar man is vermoor. Dit op die dag toe die mense gevra is om swart aan te trek vir bewusmaking van die moorde in ons land …
En voordat ek negatief kan raak, lees ek weer die storie van Nadia. Ons mag nie toelaat dat die doen en late van die mense wat so mors ons aftrek nie. Ons land en ons wêreld het God nodig.
Soveel te meer moet ons elkeen ons roeping uitleef. Nadia het deur haar posisie toegelaat dat God in haar werksplek betrek word. Sy leef haar roeping.
Paulus kan homself ook nie keer om sy roeping uit te leef nie: 7Juis daarom het God my aangestel om vir al die mense wat nog nie van Hom gehoor het nie, die waarheid te gaan vertel oor sy Seun Jesus sodat hulle ook in Hom kan glo. Julle kan dit gerus maar glo, want ek sal nie vir julle lieg nie.
En nou stop ons weer by onsself. Leef jy jou roeping uit daar waar jy werk, lewe en speel?
Teks
Dink bietjie hieroor
Waar is God se vrede nodig in jou wêreld?
Wat is jou roeping?
Hoe kan jy saamwerk om God se vrede te laat grondvat?
Gebed
Here, ons het U vrede nodig. Ons wêreld is in ’n groot gemors en ons besef dat ons op ons eie dit nie kan laat werk nie. U is die enigste antwoord. Help ons om U deel te maak van ons wêreld. Help ons om ons roeping uit te leef orals waar ons gaan. Amen.
