God se Woord in vandag se woorde

Onder God se hand in bid


Genesis 49:25 Josef, dit is my God wat jou so help. Dit is die almagtige God wat jou seën sodat dit altyd by jou sal reën, sodat daar genoeg water vir putte en fonteine sal wees en sodat jou vee en kinders sal vermeerder.

Ons het baie by Jakob geleer. Ja, hy moes eers met God worstel om ontslae te raak van sy eie manier van dink en doen, maar God het hom nooit gelos nie. God het hom geseën om ʼn groot man met ʼn groot nageslag te word.

Hier aan die einde van sy lewe groet en seën hy elkeen van sy seuns. As jy later na die lewe van die seuns kyk, wat die twaalf stamme van Israel geword het, sien jy dat dit presies uitgeloop het soos wat hul vader hulle mee geseën het.

Om ander te seën, dra besondere krag.

Daar word vertel dat ds. Andrew Murray senior gereeld saam met sy gesin aandgodsdiens gehou het. ʼn Skrifgedeelte en ʼn psalm is gelees en dan is ʼn gebedsseën oor sy kinders gebid. Hy het hulle by die naam voor God genoem en gebid dat die Here hulle sal bewaar, vorm en roep.

Dit was nie ʼn groot seremonie waarvoor hulle moes aantree nie, net ʼn getroue, hoorbare seëngebed in die gewone ritme van die huis.

Daardie ritme het ʼn nalatenskap gebou wat die geestelike landskap van Suid-Afrika onherroeplik sou verander. Andrew Murray junior sou wêreldbekend word vir sy bediening en sy boeke oor gebed, en het nog tot vandag toe ʼn groot impak op baie mense se lewens.

Die vader se uitgesproke seën rig die toekoms van sy kinders. Dit vorm hul identiteit, hou hulle veilig en hul rigting word “gepraat” onder God se hand.

Jy sien, in ʼn intieme verhouding met God is dit eintlik ʼn stuk gereedskap wat ons ontvang. Ons het hier ʼn voorsprong bo ander wat nie in God se weë stap nie. Ons kan “onder God se hand” ons geliefdes laat leef deur dit voortdurend uit te spreek.

Laat ons dan hierdie geleentheid aangryp. Laat ons gereeld ons geliefdes, kinders, familie en vriende “onder God se hand” inpraat, sodat hulle onder Sy seën  kan leef!

Gebed
Vader, dankie vir die stuk gereedskap wat U aan ons gee. Dankie dat ons ander kan seën en weet dat hulle uit U hand sal ontvang. Ek seën  nou vir …

Vrae
Wie se lewe is tans onder my invloed, en hoe gebruik ek my woorde om rigting en hoop te gee?
Glo ek werklik dat God deur uitgesproke seën werk, of sien ek dit bloot as mooi woorde sonder krag?
Hoe kan ek seën meer doelbewus deel maak van my verhouding met God en my alledaagse omgang met mense?

Doen dit nou
Noem vandag een persoon by die naam voor God en bid doelbewus ’n seën oor sy of haar toekoms, karakter en roeping.
Maak seën deel van jou gewone ritme en nie net iets wat jy doen wanneer dinge skeefloop nie.
Let hierdie week op hoe jy oor jou geliefdes praat en vervang bekommernis met seënwoorde wat hulle onder God se hand plaas.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek