Ons omgee deur God ervaar
’n Moeder se getuigskrif van haar dogter:
My dogter is ‘n baie diep kind. So lank as wat ek kan onthou, was sy altyd bekommerd oor my. Sy het van kleins af vir almal gebid. Waar sy gaan, maak sy ‘n verskil.
Na my egskeiding het ek en sy nader aan mekaar gekom. Ek kon baie van haar leer. Sy het nie ‘n aardse pappa wat vir haar omgee nie, maar sy het ‘n Hemelse Pappa Vader waarvoor sy baie lief is.
Haar hele lewe het sy aan Hom gewy.
Ek leer elke dag van my lewe baie van haar en kon baie rustigheid in my lewe kry. So beweeg ek nader aan ons Hemelse Vader.
Sonder dat die dogter dit besef, leef sy een van die eienskappe van wysheid sommerso vanself uit. Sy is barmhartig. Sy is vol medelye. Sy weet haar ma trek swaar. Sy sien dit raak, maar meer nog, sy doen iets daaraan.
Wysheid is wanneer ons toelaat dat ander se swaar ons aanraak. Ons laat toe dat ons hart aangeraak en geroer word wanneer mense seerkry. Dis onwys om oogklappe aan te sit wat ander se lyding uit ons sig laat verdwyn.
Wanneer ons soos die dogter ’n verskil maak aan ander se nood, raak ons soos die Vader wat omgee. Ja, dan raak ons soos God. God het juis vir ons kom wys wat dit is om barmhartig te wees, om werklik om te gee.
God het gesien dat ons mense in die modder rondploeter en dat ons vooruitsig nie baie rooskleurig gelyk het nie. Ons was op pad na die dood. God het egter nie net gesien nie, maar ook iets gedoen aan die mens se hoop-loosheid.
Gedryf deur liefde, sit Hy ’n oplossing op die tafel. Jesus moes sterf aan ’n kruis op Golgota. Watter ongelooflike groot opoffering was dit nie? Watter groot oplossing was dit nie vir die hele mensdom nie?
Hierdie voorbeeld van omgee, wat aan ons lyf vat, wat ons toekoms verander, moet ons juis dryf om ook goed te doen. Maar ons moet meer doen as net die oogklappe afhaal. Ons moet rondkyk en plekke soek waar ons ’n verskil kan maak en nood verlig.
En dan moet ons dit doen, soos die dogter. Ons moenie bang wees om op te offer nie. Ons moet ons moue oprol en werk dat die sweet tap, sodat mense ook aan hul lywe God se omgee ervaar.
Dit is juis die rede waarom ons dit doen. God ontvang die eer. Op ’n manier is ons soos ’n spieël wat deur ons dade van omgee, die eer, die dankie weerkaats na God, want dis net as gevolg van Hom dat werklike verskil mense tref.
Wat ons aan kinders van God doen, ervaar God asof dit ook aan Hom gedoen is. Medelye leef is vreeslik wys.
17Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye …
Teks
Jakobus 3:13-18
Om oor na te dink
Sien jy ander se nood raak?
Doen jy iets daaraan?
Kry God al die eer?
Gebed
Vader, soms draai ek my kop weg vir ander se swaar. Soms kan my maag dit net nie deurstaan nie. Help my om nie van my verantwoordelikheid weg te skram nie, maar werklik ‘n verskil te maak. In Jesus se Naam. Amen.
