God se Woord in vandag se woorde

Praat met God


Soms kan ek lekker met mense gesels. Ander kere sukkel dit. Dan is ek op my senuwees en selfbewus. Ek konsentreer so mooi om die regte goed te sê, dat al die vreugde uit my gewurg word.

Die meeste van die kere het dit te doen met wie die ander persoon is. Dalk was die persoon op ’n vorige rondte ongeskik. Dalk het hy skiet-skiet die werf ingekom, of hulle hou eenvoudig net mense op ‘n afstand. Party mense bou sulke hoë mure om hulleself en laat niemand naby hulle toe nie.

Dalk was dit ’n celebrity en eenvoudig net too high to come by. Sommige van hulle ís so. Gelukkig is God nie so nie. 14Ons kan heeltemal vry en vol selfvertroue met God praat.

Hoor hierdie mooi ware storie van Pieter, wat nie skaam is om met God te praat nie, selfs op sy knieë daar in sy kantoor:

Ek beleef elke dag God se genade en seëninge. As dinge verkeerd loop, gaan ek op my knieë en bid.

Ek het ‘n klein vervoermakelaar-besigheid. Ek koop spasie op ander transporters se trokke om my kliënte se goed te vervoer.

Soms het ek dringend ‘n houer nodig, maar dan is daar nêrens een beskikbaar nie. Dan bid ek, en God help my elke keer.

Ek vertrou Hom met alles. My besigheid, my lewe, my toekoms, en my veiligheid. Wanneer ek tot Hom bid, glo ek vas dat Hy my sal help en was nog nooit teleurgesteld nie.

Onlangs het ek gebid dat ‘n kliënt wat ek verloor het, na my sal terugkom. Daardie Maandag bel daai einste kliënt en vra ek moet ‘n vrag van Johannesburg Kaap toe vervoer.

Soos gewoonlik bel ek een van my transporters om dit vir my te gaan laai. Die eienares het egter geen trokke in Johannesburg nie, maar sy sal probeer om iemand kry om die vrag op te tel.

Ek het weer soos gewoonlik op my knieë gegaan om Sy hulp te vra.

Ek het nog nie eens vir God gevra nie, toe my selfoon lui. Sy het iemand gekry het om my vrag op te tel. Ek het weer op my knieë gegaan om baie dankie te sê.

God hou Sy beloftes. Ek bid elke dag vir mense wat nie in Jesus glo nie. Hulle mis uit op baie.

Die lyn na God is altyd oop. Dis nooit beset nie. God is ’n liefdevolle Vader wat graag met jou wil gesels. Jy moet net die lyn oopmaak en met God praat. Sit al jou vertroue in Hom en weet en glo: Hy luister regtig graag na jou.

Teks
1 Johannes 5:7-21

Om oor na te dink
Praat jy met God?
Hoe sien jy vir God?
Wat kan jy doen om meer met God te gesels?

Gebed
Vader, hier is ek. Ek wil graag met U praat …

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek