God se Woord in vandag se woorde

Rolle in die huis


Die grappie word vertel van die lang ry by die hemelpoorte voor die hek met die bordjie “Mans wie se vroue op hulle kop gesit het.” Voor die hek met die bordjie “Mans wie se vrouens nié op hulle kop gesit het nie” staan daar nét een man. Petrus was baie gefassineerd oor hoe die ou dit reggekry het en stap nader om hom te vra. Sy antwoord: “My vrou het gesê ek moet in hierdie ry kom staan!”

Daar is heelwat grappies oor wie dra die broek in die huis. Die gevolge van onduidelike rolle is egter nie snaaks nie. Een van die redes waarom daar deesdae so baie disfunksionele gesinne is, is omdat dit so moeilik is om uit te werk hoe ons moet reageer wanneer daar verskille en misverstande is en wie die finale besluit moet neem wanneer daar nie saamgestem word oor ’n saak nie. Paulus gee vir ons ’n riglyn, of is dit dalk ’n opdrag? 18Vroue, erken die gesag wat mans in die gesin dra. Die Here verwag dit.

Onmiddellik is daar ’n paar stywe nekkies en dalk ’n paar mans wat graag sou wou sê: Ek het jou mos gesê! Ek dink die rede daarvoor is omdat ons dalk nie presies verstaan wat Paulus wil sê nie. Die woord gesag of onderdanig val deesdae nie meer so lekker op die oor nie. ’n Grieks-Engelse vertaling het my oog gevang: dit word beskryf as die vrywillig toegee in liefde…

Tog het baie vrouens nie meer respek vir mans nie juis as gevolg van die feit dat hulle mans hulle nie met respek en liefde hanteer nie. En dit maak dit moeilik vir sommige vrouens om onder die gesag van hulle mans te staan. Daar is mans wat die gesag in die huwelik as aanvalswapen gebruik. Ander gebruik dit weer as die finale oorstoot om net sy eie selfsugtige behoeftes te bevredig.

Dit is nie die idee van gesag of onderdanigheid nie.

Om gesag te hê is ’n groot taak met ’n groot verantwoordelikheid. Binne die huwelik moet daar ’n ruimte vir mekaar geskep word waar beide veilig kan wees, waar beide weet daar sal verantwoordelik omgegaan word met hulle as mens en hulle sal weet net die beste sal altyd vir hulle gebied word. Maar dit werk nie altyd so nie. Sommige mans het in die verlede hulle gesag misbruik wat veroorsaak het dat daar vrouens is wat gou-gou in opstand kom wanneer daar oor gesag of onderdanigheid gepraat word.

Gesag beteken nie dat die een belangriker is of die een meer voordele as die ander verdien nie. Wanneer die vrou onderdanig is aan haar man wat volgens God se standaard die leiding neem, is dit voordelig vir die orde in die huwelik.

God het die man eerste gemaak. Die vrou is gemaak om die man se maat te wees. ’n Maat wat aan sy sy is en wat nie onder sy voete vertrap word nie. Ons mans moet hierdie verantwoordelikheid nakom en doen wat reg is in die oë van die Here. Ons moet weer die gesag van ons wederhelf verdien sodat hulle vrywillig toegee aan ons liefdevolle leiding.

Hoe kry ’n mens die gesag-ding reg? 19Mans, wees lojaal en liefdevol teenoor vroue. Wanneer jy dit doen, sal jou vrou jou gesag aanvaar. Wanneer jy liefdevol en met deernis optree, sal jy nooit jou posisie as die hoof van die huis kan misbruik nie. Dan sal jou vrou dit so wil aanvaar, want sy voel veilig en hoef vir niks bang te wees nie.

’n Vriend van my is tans gewikkel in sy derde verhouding buite die huwelik. Sy vrou weet dit. Wil sy onderdanig aan hom wees en sy gesag aanvaar? Vir seker nie! Hy mors met gesag met die gevolg dat hy alle gesag verloor. Dit sal seker nie meer lank wees nie, dan sal hy ook sy huwelik en kinders verloor. Ai, ons kan darem maar mors met die mooi wat God vir ons gegee het.

Vroue, help tog julle mans, want hulle verstaan self nie altyd hoe om die gesag te gebruik nie.

Mans, maak moeite met julle vroue. Soos jy in die begin geen afstand of moeite te groot gesien het om by jou geliefde uit te kom nie, moet jy weer probeer om haar spesiaal en veilig te laat voel, al is julle nie meer in dieselfde fatsoen as wat julle in die begin was nie. Dit is ’n opdrag van God!

Maak nou planne en moet tog nie so onoorspronklik wees nie. Bou weer op wat die afgelope tyd vervalle geword het.

Teks
Kolossense 3:18-25

Om oor na te dink
Is dit vir jou moeilik om toe te gee aan jou maat?
Hoe verstaan jy onderdanigheid?
Is daar iets wat jy kan verander om harmonie te bewerk?

Gebed
Vader, dit is nie altyd maklik om die minste te wees en aan iemand anders toe te gee nie. Dankie vir die riglyne in U Woord. Help ons om daaraan gehoorsaam te wees sodat die liefde kan wen. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek