Saai vreugde
Paulus verwag van Filemon om iets te doen wat nie eintlik gewoonlik in hulle kultuur gedoen word nie. In hulle tyd het ’n eienaar nie sommer sy slaaf weer teruggeneem nie.
As ’n slaaf eers een keer gedros het, is die kans goed dat hy dit weer gaan doen. As ’n slaaf eers gesteel het, is die kans so goed dat hy weer gaan vat, dat eienaars nie die moeite doen om hulle nog ’n kans te gee nie. Kry eerder ’n nuwe ene.
Paulus weet dit gaan moeilik wees vir Filemon, maar tog glo hy dat Filemon dit wel so kan doen.
Baie keer word daar van ons verwag om dinge te doen wat nie lekker in ons gemaksone pas nie. Vergifnis wat ons moet uitdeel aan iemand wat ons seergemaak het of te nagekom het. Dalk moet ons iets opoffer wat ons geniet het. Dalk moet ons iets weggee waarvoor ons lank gewerk het.
Dis ook nie maklik nie, maar baie keer verwag God van ons om die ekstra kilometer te loop. Soms moet ons dinge doen wat nie lekker op ons bord pas nie en ja, soms moet ons ’n stuk van onsself gee.
20My liewe broer in die Here, bewys my tog hierdie groot guns. Neem Onesimus met oop arms terug. Ek vra dit nie ter wille van myself nie, maar ter wille van die saak van die Here. As jy dit doen, sal my hart oorloop van vreugde as jou broer in Christus.
Daar word soms dinge van ons wat kinders van God is, verwag wat nie so maklik is om te doen nie. Maar God sal ons help om selfs die bo-menslike te doen. Met Sy Gees sal Hy ons krag gee om die las wat dalk te swaar lyk, op te tel.
En die netto effek? Vreugde! Orals sal mense bly wees en makliker deur die lewe loop omdat ons getrou was en gedoen het soos dit van ons verwag word. En nog meer: God se Naam gaan verheerlik word.
Wanneer Christene ander se nood verlig, maak nie saak hoe klein nie, word God se Naam verheerlik. Dan is ons soos ’n toonvenster vir God en staan mense in verwondering teenoor God wat soveel dinge regkry deur ’n klomp gewone mense. Dan sê mense: “Daar moet ’n God wees!”.
Mag ek en jy vandag so lewe. Mag ons die werk doen wat aan ons opgedra is, al neem dit ons uit ons gemaksone. Mag ons hande vat met die Heilige Gees wat ons sal krag gee om ’n verskil te maak. Mag God se Naam daardeur verheerlik word. Mag ons so hope vreugde in die wêreld bring.
Teks
Filemon 1:15-20
Om oor na te dink
Waar kort daar vreugde?
Wat staan jou te doen?
Hoe moet jy dit gaan doen?
Gebed
Here, ek is so in ‘n gewoonte om net te doen wat vir my gerieflik is. Help my om gehoorsaam te wees aan U, selfs wanneer dit moeilik is en iets van my vra. Help my om nie myself te eer nie, maar U in alles wat ek doen te verheerlik. In Jesus se Naam, amen.
