Sê nee vir porn
Miskien nog ’n keer oor die huwelik. God het vir die mens ’n paar raamwerke gegee om vir ons te help om die lewe suksesvol af te lê. Vir Adam het Hy ’n maat gegee, want Hy het besef die man gaan dit nie alleen maak nie. Hierdie verhouding het Hy binne ’n huwelik omgord en dit vorm die basis van die samelewing.
Wanneer die verhouding uitmekaargeruk word, is die gevolge katastrofies. Dit sien ons orals om ons waar word.
Die aanvalle op die huwelik is aanhoudend en so verwoestend. Een van die grootste vyande is die meedoënlose geklop van pornografie. Onskuldig, word daar ’n grappie op die WhatsApp-groepie aangestuur.
Per ongeluk, word daar op ’n skakel gekliek en dalk is die eerste bladsy net onskuldige soft porn, maar ons mense se nuuskierigheid dryf ons mos altyd verder en voor ons ons kom kry, kwyl ons oor die gehyg op die skerm. En nee, dis nie net mans nie. Hulle sê ’n derde van die wat so staar, is vrouens.
Het jy geweet dat ongeveer 35% van dinge wat op die internet afgelaai word, pornografies van aard is? Dat 34% van internetgebruikers ongewenste blootstelling van pornografiese inhoud ondervind deur middel van advertensies, pop ups, verkeerde skakels en e-posse?
Dit is oorlog en baie mense besef dit nie. ‘n Mens besef nie wat die impak van pornografie op die mens is nie. Studies het bewys dat dit ongewenste swangerskappe vermeerder, seksuele ontwikkeling strem en die risiko van depressie verhoog – om maar ’n paar te noem.
Amper 50% van mense het aangedui dat pornografie ’n probleem in hulle huwelik is. Die kans om ontrou in jou huwelik te wees, verhoog met tot 300%! Die oorsaak van 56% van skeisake is weens obsessiewe belangstelling in pornografie. En so kan ’n mens aangaan en aangaan om nog skokkende navorsing aan te haal.
Die impak van pornografie en ander seksuele sondes is enorm en die grootste oorsaak van ’n gebroke gemeenskap. Onskuldig lag ons oor ’n skrapsgeklede persoon. Nuuskierig gaan loer ons op ’n webwerf waaroor die vriende praat en word ons stadig ingetrek in ’n bose kringloop. Dis snaaks, dis lekker, dis opwindend.
Die netto-effek is dat ons na die slaapkamer gaan en dinge van ons maat verwag wat nie normaal is nie. Later raak alles saai en is my maat nie meer goed genoeg nie en die probleem in die slaapkamer word nou die oorsaak van die breuk.
Mans en vroue besef nie die impak van hul oë en ore wat rondloop oor skerms nie. Die gevolge in die navorsing wys dit is een groot gemors.
Daarom dat God ernstig is hieroor. 4… God self sal afreken met mense wat rondslaap of seksueel verkeerde dinge doen.
Wanneer jy weer jou skerm aanskakel en wil kliek, dink weer. Besef dat die genot van korte duur is, maar die impak verwoestend kan wees.
Ek wonder of jy nie hierdie een aan jou eggenoot moet stuur, sodat hulle dit aan al hulle vriende en familie kan stuur nie. Dalk red jy net so ’n huwelik …
Teks
Hebreërs 13:1-8
Om oor na te dink
Sukkel jy?
Weet jy van iemand wat sukkel?
Maak ’n plan!
Gebed
Vader, ek besef hoe belangrik die huwelik is. Help my om binne die raamwerk te leef wat U vir ons gegee het. In Jesus se Naam, amen.
