Sit jou geloofsbril op!
God het baie dinge vir Abraham, Isak en Jakob belowe. Van hierdie beloftes, soos Kanaän en Jesus se koms na die aarde, het eers waar geraak na hulle die tydelike met die ewige verwissel het. Tog het hulle geglo dat dit wel eendag sal gebeur.
13Abraham, Isak en Jakob het in hulle leeftyd nog nie alles gekry wat God beloof het nie. Nogtans het hulle op God bly vertrou tot hulle dood. Soos mense wat in die toekoms kon inkyk, het hulle gesien wat God alles nog sou doen en hulle was baie bly daaroor.
So asof hulle die toekoms kon insien. Die ouens het na die toekoms gekyk met ’n bril op. ’n Bril van geloof. En wanneer ’n mens die bril van geloof op het, help dit jou om so ’n stukkie om die draai te sien.
Alhoewel hulle nie daar was toe Jesus op die aarde geloop het nie, het hulle deur hierdie geloofsbril gekyk en net geweet dat die Verlosser eendag self op die aarde se stofstrate sou loop. Hulle het so vas daarin geglo, asof dit reeds gebeur het.
Wat die geloofsbril help bou, is natuurlik die verlede. Die ouens het God in die verlede ervaar. Hulle het Hom geleer ken as ’n God wat ’n mens roep om dinge te doen, maar dan ook Sy kant bring. Hy is ’n God wat Sy beloftes een vir een nakom en doen soos Hy sê.
So wanneer jy in die verlede God ervaar het en Hy sê Hy sal nog dinge in die toekoms doen, kan jy Hom mos maar vertrou. Sy styl is om te doen wat Hy belowe het. Hoekom sal Hy dan nou halfpad van plan verander?
Ons moet ook toelaat dat die verlede, God se stap met ons, God se stap met ander en God se stap deur Sy Woord, ons geloofsbril vorm. Neem nou maar die storie van Abraham. Hoe het God hom nie geseën nie? Kyk net hoe gee Hy die ram om te offer, sodat hy nie vir Isak hoef te offer nie. Kyk net hoe groot het sy nageslag geword.
God het vir Abraham baie beloftes gemaak en hulle waar laat word. God het belowe dat Jesus na die aarde toe sou kom. En Jesus het gekom en aan die kruis gesterf vir elkeen van ons se pak straf vir al die sondes wat ons aanvang. Kyk terug oor jou eie lewe en sien watter hope en hope genade God jou gegee het.
Laat al hierdie gebeurtenisse van die verlede jou help om jou bril te vorm waardeur jy in die toekoms inkyk. Dan sal jy weet dat God nie halfpad van plan sal verander nie.
’n Matriekdogter skryf die volgende gedig:
Waarom sou ons vrees in ons eie land
met soveel beloftes uit God se hand?
Ons land, jy’s die perfekte kandidaat
met ‘n bonatuurlike, goddelike mandaat!
Ons is mos positiewe geloofsmense
want ons God word nie beperk deur grense.
As Hy hier wil werk, wié kan Hom keer
as Sy bloed spreek in die hemelsfeer?
Hy is ons Raadgewer in al ons weë
op Wie ons wag – Sy tyd is altyd geneë.
Spreek lewe elke dag, oral waar jy kom!
Ons fokus nie op storms en aanslae stom.
Nee! Ons is ligdraers met ‘n toekomsvisie
ons styg bo elke haat sonder ammunisie,
en leef ons lewenswoorde van hoop
met moed en krag in vaste geloof!
Net geloof alleen kan God behaag
staan daarom vas – met Hóm sál ons slaag!
Laat ons almal ons geloofsbrille opsit en so leef.
Teks
Hebreërs 11:8-19
Om oor na te dink
Hoe lyk jou bril?
Hoe lyk God vir jou uit die verlede?
Hoe kan dit jou help om jou bril te versterk?
Gebed
Vader, U het al so baie beloftes in ander se lewens waar gemaak. Ook in my lewe. Ek het nou weer so ’n waarmaak ene nodig. Amen.
